‘n Rit op ‘n ysterperd vir kinders in pleegsorg

Mac’s Randfontein-motorfietsklub het kos, klere en komberse aan kinders wat van hul ouerhuise weggevat is, geskenk.

Lede van die Mac’s Randfontein-motorfietsklub het op 29 Julie kos, klere en komberse geskenk aan kinders wat uit hul ouerhuise verwyder is.

Volgens Pieter de Witt, Mac’s Randfontein-president, het hulle gehoor dat dié kinders in ’n Randfonteiner se sorg geplaas is, en hulle het besluit om die huishouding te help waar hulle kan.

Die vroue van Mac’s Randfontein-lede het die kos, klere en komberse ingesamel en Simone de Witt, Mej Randfontein Snr Ambassadeur 2018 was ook teenwoordig tydens die oorhandiging. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Kinders is Mac’s Suid-Afrika se grootste prioriteit en ons organisasie ondersteun die Leave The Children Alone Foundation (LTCAF). Ons tak het besluit dat ons plaaslike kinders ook graag wil help,” het Pieter gesê.

“Die vroue van Mac’s Randfontein-lede het die kos, klere en komberse ingesamel. Die skenking was nie eenmalig nie, ons gaan betrokke bly en help waar ons kan. Hier is ook ander kinderorganisasies in die dorp vir wie ons wil help.”

Johnny Benecke, adjunkpresident en Pieter de Witt, Mac’s Randfontein se president het die donasies aan die pleeghuishouding oorhandig. Foto: Jaco-Mari Futcher

Vyf van die kinders wat in die pleegpa se sorg geplaas is, was teenwoordig tydens die oorhandiging van die donasie by die Soap Suds-karwasplek naby Spur. Simone de Witt, Mej Randfontein Snr Ambassadeur 2018 asook Johnny Benecke, adjunkpresident van Mac’s Randfontein en ander lede van die motorfietsklub was ook teenwoordig.

“Ons het elkeen van hulle vir ’n rit op ons motorfietse om die parkeerterrein geneem en hulle het dit baie geniet,” het Pieter bygevoeg.

Die pleegpa asook die kinders wat in sy sorg geplaas is, se name word weerhou omdat die bekendmaking daarvan nie in hulle belang is nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version