Local newsNews

Musiekjuffrou sal nooit ophou klavierspeel

Een van die hoogtepunte van Annelien se musiekloopbaan is die afgelope maand se Wêreldkoorspele waar sy die Drakensberg Ou Seunskoor op die klavier begelei het.

Annelien du Plessis, 57, is ’n plaaslike musiekonderwyser wat sê dat sy klavier sal speel tot sy haar laaste asem uitblaas.

Vandat sy ongeveer 48 jaar gelede begin klavierlesse neem het, draai haar hele lewe om musiek.

“My ma en pa het vir hulle ’n klavier gekoop toe ek nog ’n kind was, en ek en my suster het gedurig die klawers getokkel. Hulle het ons toe vir klavierlesse gestuur en ek het verlief geraak op musiek,” het Annelien vertel.

Sy was in Graad 8 in Hoërskool Riebeeckrand en het later haar passie vir musiek uitgeleef deur na die Pro Arte Skool in Pretoria toe te gaan, voordat sy terug is Randfontein toe.

Sy is al 14 jaar lank ’n musiekonderwyser aan die FJL Wells Musiekskool. Sy kan klavier en viool speel en sy gee sanglesse ook. “Terence Bridgett, die bekende Suid-Afrikaanse akteur, was een van my musiekleerlinge,” het Annelien gesê.

Sy was voorheen ’n onderwyser by die Drakensberg Seunskoor Skool. Annelien het ook al baie uitvoerings saam met simfonie-orkeste regoor Suid-Afrika en talle suksesvolle oudleerlinge op haar kerfstok.

Die Drakensberg Ou Seunskoor, wat deur Annelien du Plessis belei is, het die oopkompetisie van die kategorie seuns-kamerkoor tydens die Wêreldkoorspele gewen. Foto: Ingestuur

Een van die hoogtepunte van Annelien se musiekloopbaan is die afgelope maand se Wêreldkoorspele.

Sy het die Drakensberg Ou Seunskoor, wat nou maar eers twee jaar bestaan, na die kompetisie in Tshwane vergesel waar sy hulle op die klavier begelei het.

“Daar is twee kompetisies, naamlik die oop- en die kampioenkompetisie. Ons het die oopkompetisie van die kategorie seuns-kamerkoor gewen. Ons gaan in 2020 in België deelneem.

“Ons is baie trots op ons prestasie en ek voel geëerd om deel daarvan te kon wees,” het Annelien met trots vertel.

Sy het ook gespog met ’n ander leerling van haar wat onlangs met 16 medaljes van die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles na Suid-Afrika teruggekeer het.

Haar twee lewensmotto’s is, “Life without music is a mistake” en, “Painters paint with their colours on canvases and composers paint on silence with notes”.

“As musiek eers deel is van jou, kry jy dit nooit uit jou lewe nie. Ek het so ‘n paar jaar gelede probleme met my hande gehad en het vir nege maande nie klavier gespeel nie. Ek het besluit dat dit my nie gaan terughou nie en ek sal speel tot ek my laaste asem uitblaas,” het sy gesê.

By die huis ontspan Annelien graag met ’n boek of sy gaan kyk na ’n kunsfliek of ’n teaterproduksie by Montecasino. “Ek is so versadig vir musiek wanneer ek by die huis kom dat ek ‘n bietjie stilte koester, maar musiek bly steeds my eerste liefde.

“Ek het nie kinders nie en is baie jare gelede geskei, so musiek en my leerlinge is my lewe,” het Annelien gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button