Local newsNews

Teddiebere vir mense in nood

Vir Nelson Mandela-dag gaan Reinette Herbst teddiebere aan mense in nood uitdeel om vir hulle hoop vir 'n beter lewe te gee.

Selfs jare na sy dood inspireer oudpresident Nelson Mandela steeds duisende om hul harte vir liefdadigheid oop te maak.

Mandela se nalatenskap het Randfontein se eie Mev Afrika 2018-finalis, Reinette Herbst geleer om ’n inspirasie en rolmodel vir ander te wees.

“Voor sy dood was ons nie altyd bewus van alles wat hy gedoen het nie, maar sy nalatenskap leef voort en nou kan mens sien waar hy ’n verskil gemaak het. Hy is vandag steeds ’n baken van hoop,” het Reinette gesê. “Ek dink ons kan almal iets by hom leer – veral die manier hoe mense oor hulself én van ander praat.

“Ek het hom nooit self ontmoet nie, maar die 67 minute vir Mandela is ’n tradisie wat vir altyd gaan aanhou en dit gaan baie mense se lewens verander. Ek gaan teddiebere aan mense in nood uitdeel vir Mandela-dag.”

Reinette vergelyk Mandela en die teddiebere wat sy bymekaar gemaak het met die hoop vir ’n beter lewe. Nie almal het goeie rolmodelle na wie hulle kan opkyk nie, maar hulle kan die beertjie vashou wanneer hulle eensaam voel en dit kan hulle weer hoop gee. “Mandela het vir ons gewys dat ons nie vir ewig in ons slegte omstandighede vasgevang hoef te wees nie,” het Reinette gesê.

Volgens Reinette kyk mense daarin vas om altyd klere of kos vir liefdadigheid te gee, en hoewel dit belangrik is, kan ’n teddiebeer ook baie vir ’n kind of selfs ’n volwassene se emosionele gesondheid beteken. “Om ’n teddiebeer vas te hou is soos om ’n drukkie te kry. Baie kinders het geen speelgoed nie en iets eenvoudig soos ’n teddiebeer kan mens troos en veilig laat voel.”

Reinette het meer as 100 teddiebere ingesamel wat skoon- en heelgemaak is. Veertig van dié teddiebere gaan aan kinders met gestremdhede by die Rainbow Day Care Centre in Randfontein uitgedeel word. Die res gaan by ’n hospitaal en ’n huis vir kankerlyers in Johannesbrug uitgedeel word.

“Mandela se nalatenskap het baie deure oopgemaak vir mense wat vasgekeer gevoel het. Liefdadigheid strek nou oor al die kulture, rasse en ouderdomme as gevolg van dit wat Mandela vir ons land beteken het.

“Hy is ’n baken van hoop en daar is baie mense wie se lewens hy verander het,” het Reinette gesê.

Reinette se liefdadigheidswerk eindig egter nie by die uitdeel van teddiebere vir Mandela-dag nie. “Oorspronklik wou ek net die teddiebere uitdeel, maar ek gaan vir my 67 minute nog iets anders doen. Ek gaan ongelukkig nie in Randfontein wees op Mandela-dag nie, maar ek gaan in Mauritius help om die strande skoon te maak as my deel vir 67 minute vir Mandela. Liefdadigheid hoef nie op te hou wanneer mens nie tuis is nie.”

Daar is baie nood in die dorp, maar volgens Reinette is daar gelukkig baie mense in Randfontein wat harte van goud het.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za  (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites

Roodepoort Record

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Related Articles

Back to top button