Sakeman kry nuwe nier

Cassie le Roux, 'n sakeman in Randfontein kry binnekort ’n operasie wat sy lewe gaan verander.

Nierversaking is ’n ernstige probleem en nie almal wat daaraan ly is so gelukkig om gou ’n skenkernier te kry nie.

Cassie le Roux, 57, die eienaar van Massyn Moves, woon sy lewe lank in Randfontein en na een en ’n halwe jaar se wag, kry hy uiteindelik ’n nieroorplanting wat hy glo sy lewe gaan verander.

Hy is in Februarie 2016 met fase drie nierversaking gediagnoseer en het slegs agt persent nierfunskie gehad. Daar is onmiddellik begin met dialise, maar dit het bloedklonte in sy longe veroorsaak en albei sy longe moes geopereer word.

Cassie, sy skoonsuster Monica le Roux (links) en Lizl Pistorius (regs) glo dat die nieroorplanting ‘n sukses gaan wees. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Die probleem met nierversaking is dat mens nie altyd die simptome opmerk voordat dit amper te laat is nie. Ek moet nou drie keer ’n week dialise kry om gifstowwe uit my bloed en oortollige vloeistof uit my liggaam te haal.

Die proses duur ses uur. Hulle koppel die masjien aan die hoofslagaar in jou nek of lies, maar dis nie ’n langtermynoplossing nie want later begin mens se are platval. Daar is buisies in my arm ingeplant waardeur die dialise gedoen word,” het Cassie gesê.

“Net na my diagnose was ek twee maande lank in die hospitaal weens die komplikasies met my longe en daarna het dit my vier maande geneem om te herstel. Gelukkig laat my werksomstandighede dit toe dat ek mediese behandeling soos die operasies en die dialise kan ondergaan, maar nie almal met my toestand is so gelukkig nie,” het Cassie gesê

Cassie gaan binnekort ’n nieroorplanting kry wat hopelik gaan beteken dat hy nie meer dialise sal nodig hê nie. “My skoonsuster, Monica le Roux, het ons ongeveer ’n jaar gelede aan haar vriendin, Lizl Pistorius voorgestel wat onmiddellik vir my gesê het dat sy vir my ’n nier sal skenk. Ongelukkig moet daar baie toetse gedoen word voordat ’n orgaan geskenk kan word. Die toetse was positief en die kans dat my liggaam haar nier gaan verwerp is baie skraal. Hier is ons een jaar later en ek gaan binnekort haar nier kry,” het Cassie gesê.

Lizl se linkernier gaan verwyder word en aan Cassie se twee niere gekoppel word. “Daar word gesê ’n mense het net 25 persent van ’n nier nodig om te kan funksioneer, en ons is positief dat my gesondheid na die operasie sal verbeter.”

Daar is buisies in Cassie le Roux se arm ingeplant waardeur die dialise gedoen word, maar na sy nieroorplanting gaan dit waarskynlik nie meer nodig wees nie. Foto: Jaco-Mari Futcher

Na die operasie gaan daar deurlopend toetse gedoen word om vas te stel of Cassie se liggaam die nier aanvaar. Cassie mag ook nie direk na die operasie aan enige bakterieë, kieme of virusse blootgestel word nie, want sy immuniteit word verlaag sodat sy liggaam nie die nier verwerp nie.

“Daar is net ’n klein groepie mense wat organe skenk en ’n mens is baie lank op ’n waglys. Dit is regtig ’n wonderwerk om iemand te kry wat vrywillig haar nier wil skenk én dat al die toetse positief was,” het Cassie gesê.

“Ons is baie opgewonde en ek is baie dankbaar vir Lizl se onbaatsugtige gebaar. Dis vir haar ook ’n risiko, want dis nie te sê dat sy 100 persent reg gaan wees na die operasie nie, maar sy is steeds bereid om die kans te waag,” het Cassie bygevoeg.

Lizl, 43, wil graag mense bewus maak van die feit dat ’n mens nie hoef te wag tot jy sterf om ’n orgaan te skenk nie. “Dit is moontlik om met een nier of een long te leef, daarom was ek nie bang om my nier vir Cassie te skenk nie. Ek het nie eers twee keer daaroor gedink nie, want ek het klaar besluit dat ek dit wil doen en ek het geweet al die toetse gaan positief wees,” het Lizl gesê.

Cassie en Lizl word albei Donderdag, 19 Julie, by die Wits Donald Gordon Medical Centre geopereer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version