Nog skape in Vleikop gesteel

Al vier die skape wat 'n vrou as verjaarsdaggeskenk by haar man gekry het is verlede week van hul plot in Vleikop af gesteel.

Al vier Jeanette Kelly se geliefde skape – wat sy as verjaarsdaggeskenk by haar man gekry het – is onlangs van hul plot in Vleikop af gesteel.

“Hulle het al my skape gesteel. Ek het Januarie die skape gekry nadat ek gesê het dat ek ’n klein skaapboerdery wil begin, maar my spoed is nou gebreek.”

Sy het vertel dat hulle omstreeks 3.30vm op Vrydag, 29 Junie wakker geword het weens geluide buite die huis.

Al vier Jeanette Kelly se skape, wat sy as verjaarsdaggeskenk gekry het, is van haar en haar man se plot in Vleikop af gesteel. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Ons het dit geïgnoreer, want dit het geklink soos perde wat hardloop en dis nie vreemd om dit in die aand te hoor nie,” het Jeanette gesê.

Hulle het eers later dieselfde dag besef die skape is gesteel. Volgens Jeanette het hulle nie ’n veediefstalsaak by die polisie geopen nie want sy glo dat die polisie nie die diewe sal vang nie.

Also Read: Is veediefstal besig om hand uit te ruk in SA?

Behalwe die Kelly-gesin se skade is daar glo gereeld veediefstal in dié omgewing.

Die kamp waarin die skape gedurende die dag gewei het, is nou leeg. Foto: Jaco-Mari Futcher

Volgens Charmain Kemp, wat ook op ‘n plot in Vleikop woon, het mense in ‘n spesifieke kleur bakkie vroeër vanjaar in dieselfde area skape gesteel.

“My buurman se honde is vergiftig en 11 skape is gesteel. Die diewe moes vyf van die skape agterlaat omdat hulle nie almal kon laai nie. Daar is ook onlangs by ons ingebreek,” het Charmain bygevoeg. Volgens haar is daar in albei gevalle ‘n saak by die polisie geopen, maar die diewe is nog nie vasgetrek nie.

Die skape wat op Jeanette se plot gesteel is, het in ‘n stoor teen die huis geslaap.

“Ons plaaswerker slaap reg langs die stoor waarin ons die skape laat slaap, maar hy het niks gehoor nie. Hy kon wel die diewe se voetspore volg tot waar hulle ’n gat in die heining gemaak het. Al die gras teen daardie deel van die heining is plat, so ons vermoed hulle het ons vir ’n geruime tyd daar sit en dophou.”

Hul ganse het twee weke voor die diefstal baie lawaai, maar Jeanette het gedink dat die mannetjies dalk oor die enkele wyfie baklei het. Vandat die skape gesteel is, is die ganse stil.

Jeanette het gesê dat sy nie gou weer skape sal aanhou nie. “Ons sal nou maar met die varke en die ganse boer,” het sy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version