MunicipalNews

Stofpad veroorsaak sinusprobleme

Inwoner sit met sinusprobleme en moet aanhoudend binne en buite sy huis vee en afstof weens die rooi grond wat oral inwaai.

Renier Labuschagne, ’n ontstelde inwoner moet aanhoudend binne en buite sy huis vee en afstof omdat die rooi grond wat in die slaggate voor sy huis gegooi is, in sy erf inwaai.

In 2015 het groot slaggate in Lark Crescent begin vorm en die munisipaliteit het sommige slaggate gevul. Die toestand van die straat het stelselmatig versleg totdat, volgens Renier, “… geen mens meer met ’n kar in die straat kon ry nie”.

Renier wys die laag stof wat binne een dag op die teëls buite sy huis gaan lê het. Foto: Jaco-Mari Futcher

Renier het die probleem gerapporteer en in April het die munisipaliteit ’n vrag rooi grond in die straat gegooi om die gate te vul.

“Gelukkig het dit gereën, wat die grond klam gehou het, maar nou waai die wind die los sand in ons huise in.”

Dit voel vir Renier of hy weer op ’n plaas woon. “Ek kom van die plaas af en ek weet hoe lyk ’n stofpad,” het Renier gesê.

“Ek en my vrou het albei nou sinusprobleme. Ons maak elke dag rondom die huis skoon, want alles lê permanent onder ’n laag stof,” het hy gekla.

Lees ook: Roads in Elandsvlei a hazard

Elke voertuig wat verby hul huis ry, skop stof op en die karre ry boonop aan die anderkant van die pad om die slegste deel van die straat te vermy. Volgens Renier raak die straat smiddae besig.

Die slaggate voor Renier se huis wat in April met rooi grond gevul is. Foto: Jaco-Mari Futcher

Renier het al ’n paar keer met ’n raadslid gepraat, maar dié kon hom nog nooit reguit antwoord nie, behalwe dat die burgemeester glo gesê het die slaggate moes met rooi grond opgevul word, want daar was nie geld vir teer nie. “Ek voel of ek net die heeltyd kla en praat, maar niemand luister nie. Mens kan net een keer jou munisipale rekening ‘n bietjie laat betaal dan is mens in die moeilikheid, maar hulle bring nie hul kant nie.

“Die straat lê vol los klippies wat van onder die uitgebreekte teer uitkom. Hulle sal die hele straat moet oorteer,” het hy gesê. “Ek hoop met die nuwe begroting wat op 1 Julie in werking getree het, sal daar geld wees om dié straat reg te maak.”

Renier is afgetree en hy en sy vrou bestee baie van hul tyd tuis. “Die rooi stof het nou ‘n gesondheidsprobleem geword – en die Augustus-winde lê nog voor,” het Renier bygevoeg.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button