MunicipalNews

#MunisipaleMaandag: Industriële gebied het rioolwaterprobleem

Vir hierdie week se #MunisipaleMaandag het 'n besigheidseienaar 'n ernstige rioolwaterprobleem onder die Herald se aandag gebring.

Die rioolwater loop glo al twee maande lank in die pad af in die Aureus industriële gebied.

Boundary-, Pessan- en Chainstraat word grootliks daardeur beïnvloed. Daar is verskeie besighede, fabrieke en selfs woonhuise in hierdie gebied wat met die vuil water en dreinblokkasies moet saamleef.

Volgens Johan Fourie, eienaar van Rainbow Battery Recycling het hy al verskeie kere die munisipaliteit gekontak rakend die situasie. Die riool loop langs sy besigheid in die pad af en dit syfer onderdeur die mure in die perseel in.

Daar is besighede, fabrieke en woonhuise wat deur die rioolwater en dreinblokkasies beïnvloed word. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Mens praat elke keer met iemand anders, maar niemand help mens nie. Ek het laasweek uiteindelik met iemand gepraat wat my probeer help het. Hulle het Donderdag drie trokke gestuur, maar die dreine is steeds geblok,” het Johan gesê.

Die munisipale werkers het vir Johan gesê dat die probleem opgelos is, maar daar is steeds poele vuil rioolwater in die straat en op die sypaadjie.

Hy het ook al die Randfonteinse burgemeester probeer kontak, maar dit was te vergeefs.

“Dis ‘n groot gesondheidsrisiko, want dis rioolwater wat in die paaie loop.” Daar hang boonop ’n vreeslike stank in die lug.

“Die kinders in die woonstelkompleks om die hoek hou daarvan om buite te speel. Ek is bekommerd dat hulle met dié water in aanraking gaan kom,” het hy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button