Graad 1’tjie reg vir Amerika!

Graad 1-leerder van Laerskool Randfontein, Shaylin Potgieter, het nou eers met grootskool begin en kry klaar die geleentheid om naam te maak in Amerika, maar sy kort ons hulp.

Shaylin Potgieter het nou eers met grootskool begin maar is reeds op pad Amerika toe om naam te maak.

Shaylin, ‘n Graad 1-leerder van Laerskool Randfontein (Ram) is gekies om aan die Talent America-kompetisie in Julie deel te neem nadat sy uitstekend gevaar het in sang en drama by Talent Africa.

Shaylin by Roodepoort Teater. Foto: Ingestuur.

Met haar heel eerste optrede by Raca op 15 September 2017 het sy diamantsertifikate ontvang vir Vocal Solo en Dramatised Poetry. Sy was toe nog in die Rosemarie Kahn-kleuterskool. Daar het sy by onderwysers Christa Botha en Rina van Jaarsveld onderskeidelik drama- en musiekafrigting ontvang.

“Die beoordelaars het ons aangeraai om haar vir die Talent Africa-kompetisie in te skryf. Ons het haar vir twee items ingeskryf hoewel sy geen ondervinding gehad het nie,” het haar ma, Liezel gesê.

Haar eerste optrede in Dramatised Poetry by die Talent Africa-kompetisie was by die Roodepoort Teater op 2 April, gevolg deur ‘n optrede in Vocal Open by dieselfde teater op 4 April.

“By die eerste optrede het ons eers besef dat sy New York toe kon gaan indien sy goud inpalm en ons het vir haar gesê sy moet net haar beste doen en dit geniet. Tydens die prysuitdeling op Sondag, 8 April het sy goud in Dramatised Poetry asook ‘n silwer vir sang ontvang.

“Hulle het my gebel en gevra of sy New York toe sal wil gaan en dat hulle haar graag daar wil hê.”

Volgens Liezel is Shaylin een van die kleinstes wat uit al die provinsies gekies is vir solo-optredes. Nou kan sy spog met twee medaljes en ‘n uitnodiging na New York. Sy het ook twee balkies, een goud vir drama en een silwer vir Vocal gekry. Shaylin het ook ‘n spesiale toekenning gekry vir Best Junior Song Choice.

Liezel het vertel dat haar dogter se glimlag helderder as die son was toe sy die goeie nuus gehoor het want haar droom om oorsee deel te neem, gaan nou bewaarheid word.

“Sy is deel van Span Gauteng en ‘n verteenwoordiger van haar land Suid-Afrika. Ons as ouers se harte bars van trots.”

Haar boetie, Bihan volg in haar voetspore.

Die koste om Amerika toe te gaan beloop ongeveer R140 000 vir Shaylin en haar ma. Liezel reël juis ‘n gholfdag om fondse in te samel, en het ook die gemeenskap se hulp nodig om Shaylin se droom te bewaarheid.

• Skakel Liezel by 083 702 0734 vir enige hulp of donasies.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version