Jonathan raps Randfontein weer

Dit is wat inwoners te sê gehad het oor die bekende Jonathan van Radio Raps se video oor die dorp ... Hy het intussen weer van hom laat hoor

Die afgelope naweek is ‘n YouTube-video, Dorp van die Week – Randfontein, deur ‘n ander publikasie die wêreld ingestuur. Daarin beskryf die bekende komediant Jonathan van Radio Raps hoe sake volgens hom in die dorp staan.

Die Herald het op verskeie Facebook-blaaie gevra hoe die lede oor die video voel. Daar was heelwat uiteenlopende kommentaar en gemengde gevoelens. In reaksie daarop het hy weer van hom in ‘n video laat hoor.

Hier is uittreksels uit die kommentaar wat mense aanvanklik gelewer het.

“Ek vind dit nie snaaks nie, eerder ‘n wakkerskrik oor ons dorp. Lyk nie goed, mense kom strooi sommer hulle gemors in my woonbuurt Robinpark. Al langs die treinspoor lyk dit soos ‘n dump. Al langs die skougronde verby die gholfbaan gooi mense hul gemors by die venter uit. Ek het al agter iemand gery wat ‘n pizzaboks by sy venter uitgooi. So ja, wat hy sê, is vir my glad nie snaaks nie,” het een inwoner geskryf.

‘n Ander inwoner het gesê sy het nooit besef die dorp is so vuil nie. Die ander het half skaam gekry om te weet dit is waar ons bly. “Elke dag ry ons verby daai hoop vuilgoed, maar sien dit nie regtig raak nie. Wens net hy kon met mense van die dorp gepraat het. Randfontein het goeie mense; omgeemense,” het iemand anders gesê.

Lees meer: Greenhills-rommelstorting onder die vergrootglas

‘n Ander inwoner het die humor daarin raakgesien, en gesê, “Kyk boys, julle moet net leer om ‘n grappie te waardeer”.

“Een groot wakkerskik vir die munisipaliteit en as ‘n oud-Randfonteiner was dit hartseer om na die video te kyk,” was ‘n voormalige inwoner se kommentaar.

“Ek dink dis m*@r snaaks, en baie waarheid daarin! Ek het ook al van die ander dorpe s’n gesien en dit kom op dieselfde neer! Vat dit soos dit kom en lag ‘n slag!” was ‘n ander se raad.

“Ek dink dis presies wat mense moet weet. Life is tough, get up and do something, in plaas daarvan om die waarheid te probeer toesmeer. Doen iets, dit is ‘n dwelm- en alkoholplek,” was iemand se driftige reaksie.

“Ek dink nie dit was sleg bedoel nie. Die dorp was op ‘n tyd ‘n mooi plek en mense wat sê hy maak ‘n g@t van die dorp is dié wat in hul huise sit en nie deur die dorp ry nie. Miskien sien die regte mense die video en doen iets daaromtrent,” is nog ‘n opinie.

“Hy doen dit in humor en laat dit nog goed lyk. Wou julle hê daar moes eerder ‘n toi-toi wees? Ek dink dit was goed. Sit ‘n glimlag op ‘n persoon se gesig. Lag saam want dit is maklik om te kla en niks te doen nie,” was iemand anders se kommentaar.

“Stuur die video vir die stadsraad want hulle weet nie wat in die dorp aangaan nie,” het ‘n vrou gesê. “Ek weet dis as ‘n grap bedoel maar hy kon darem die goeie punte ook wys … ek is trots om ‘n Randfonteiner te wees!” het ‘n trotse inwoner gesê.

Lees ook: Begraafplaas word skoongemaak!

“Die sarkasme en humorsin is seker maar uniek aan iemand wat ‘n keps op sy kop sit vir status. Die rommel is egter skokkend, maar dis ‘n algemene probleem. Dankie tog hy stel nie belang in die plek nie,” het ‘n vrou reguit gesê.

Nog iemand wat voel Jonathan praat die waarheid is te skaam om te sê sy bly in Randfontein.

‘n Ongelukkige inwoner het dit so gestel: “Dit was onnodig. Hulle het uitgegaan om Randfontein nog slegter te maak. Persoonlik dink ek hulle kon die video op ‘n beter plek geskiet het as by ‘n verdomde ashoop en beter plekke gewys het.”

“Dis was werklik nie mooi om te sien nie, maar ongelukkig ook die waarheid. Ek bly in Greenhills en moet altyd die reuk kry van iewers af. Greenhills moet herdoop word na ‘Stinkieslaagte’,” het ‘n man gesê.

“Ek het nie geweet dit was Radio Raps nie. Ek het gedink dié ou het ‘n klap van die windmeul weg en my skoon in ‘n ander bloedgroep in vererg. Maar ja,” het nog ‘n ontstelde inwoner laat weet.

Heelwat het gesê dat mens nie mag kwaad raak oor feite nie. “En hy doen dit met al die dorpe. Nie net Randfontein nie. Dit is sy werk. As hy moontlik nog twak gepraat het kon ons vies word. Ek is skaam om te sê, hy het feite genoem en gewys.”

“Ek dink dis ‘n baie goeie ding dat Randfontein ook in die nuus is,” het ‘n optimistiese inwoner gesê.

‘n Ontstoke inwoner het anders gevoel. “Hy het net die g@tkant van die dorp gewys. Eintlik ‘n bespotting. Ek dink dit is ‘n belediging, baie swak smaak, veralgemening, stereotipering en sou graag wou weet waarom daar juis op Randfontein besluit is. Ja, ons het ons uitdagings en minder ‘aansienlike’ areas, maar ek dink dit geld vir bykans elke dorp in die land.”

Nog negatiewe kommentaar oor die video was, “Hy was pateties. Is oningelig. Het ‘n vals beeld van ons dorp vir die wêreld voorgehou. Ons dorp het wonderlike mense en ons bly lekker hier in die rustigheid. Gelukkig beteken wat hy dink nie veel vir my nie. Ander mense kry weer as gevolg van hom ‘n wanindruk dat Randfontein ‘n agterlike dorp is. Vermetele vent.”

Op ‘n ligter noot is daar ook gesê, “My fellow Fonteinties moet meer glimlag en minder moan!”

Woorde om oor te dink, was dié van ‘n vrou.”Dink net aan die Skou; wat gaan die besoekers van alles dink? Kom ry net om die Skougronde. Mense se vullis lê op die sypaadjies waar ander mense moet stap. Swak. Waar is ons trots?”

Die Herald het die video onder die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit se aandag gebring, en hul kommentaar was dat hulle net wag vir ‘n tolk om dit heeltemal te kan verstaan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version