Local newsNews

Hoe om jou perd te versorg

Het jy perde op jou plaas? Versorg hulle so ...

Die Herald het by die Mi Yehenraine Ryskool gaan uitvind wat dit alles behels om ‘n perde-eienaar te wees en hoe om ‘n perd te versorg.

Lorraine Gouws is die eienaar van die ryskool en sy het tien perde met ‘n verskeidenheid bloedlyne. Daar is boerperde, bontlap en bont (piebald and skew bald) Pinto’s, Fries /Boer-kruisings, Paint/ Arabier-kruisings, Palomino’s, Percherons, saalperde, ponies en ‘n Hanoveriaanse perd.

Oor perdesiektes het sy vertel, “Perde moet gereeld teen siektes ingeënt word – siektes soos koliek, Afrika-perdesiekte, perdegriep en perdeherpes”.

Afrika-perdesiekte word nie van een perd na ‘n ander oorgedra nie. Die perde doen die gevreesde siekte op wanneer besmette muggies hulle byt.

Dit was vir die Herald interessant om te hoor dat merries nagenoeg 340 dae dragtig is. Vulletjies kan tot op twee jaar aan die merrie drink, hoewel die merries reeds van so agt maande af kan begin om hul vulletjies te speen.

Perde kan met geluk tot 35 jaar oud word, maar hulle lewensverwagting is tussen 25 en 30 jaar, hoewel dit verskil.

Vulletjies lê gewoonlik en slaap, maar omdat volwasse perde groot longvolumes het, slaap hulle meestal staan-staan. As hulle wel gaan lê, is dit net vir ‘n paar minute omdat hulle moeilik asemhaal as hulle te lank lê.

Excalibur, die ‘piebald’ Pinto-hings.

Verskillende perderasse is vir verskillende perdsportsoorte geskik. Die diere moet egter eers behoorlik afgerig word voordat hulle aan enige sportsoort kan deelneem

“Alle perde is vir my kosbare wesens en ek het ‘n baie sagte hart vir hulle. Ek sal nooit enige perd in die steek laat nie,” het Lorraine gesê.

Kinders van so jonk as drie jaar oud kan begin leer om perd te ry.

Dit verg harde werk om perde te versorg. Daar moet aandag gegee word aan hul tande, oë en ore. Hulle moet ook gebad en geborsel word, en hul maanhare en stert moet goed uitgekam word.

Sproeimiddels teen bosluise en vlieë moet gebruik word. Die perd se hoewe moet gereeld aan die bo- en onderkant ordentlik skoongemaak word, dit moet waar nodig gevyl word om dit die regte lengte te hou. Olie moet gereeld aan die hoewe gesmeer word.

Daar kom ook erge inteling by perde voor, wat ‘n perd se kwaliteit en selfs gesondheid kan benadeel. Byvoeding in die vorm van perdepille, melassemeel, lusernmeel, snyvoer, grondboontjies ensovoorts help om die diere in ‘n goeie kondisie te hou.

“Perdry is ‘n gevoel wat jy nie regtig kan beskryf nie. Dit is ‘n soort vryheid en die beste deel is jou interaksie met die perd,” het Lorraine vertel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button