NewsSchools

Jannas het ‘n nuwe hoof

Hoërskool Jan Viljoen spog in sy 80ste bestaansjaar met ‘n splinternuwe hoof.

“En die nuwe hoof is … Sarel Steyn!” David Mokgabanama, IDSO, het hierdie aankondiging amptelik op Maandag, 15 Januarie aan die Hoërskool Jan Viljoen-personeel en skoolbeheerliggaam(SBL) gemaak.

Die nuus het luide applous ontlok. Volgens die Skoolbestuur is hulle baie opgewonde oor sy aanstelling aangesien hulle hom as ‘n man met integriteit, doelgerigtheid en ‘n vlymskerp intellek ken.

Sarel is reeds sedert 1991 by Hoërskool Jan Viljoen betrokke: eers as onderwyser en toe in 1993 as departementshoof. In 2003 is hy bevorder tot Adjunkhoof: Akademie. Hy het sedert Julius Katzke ‘n pos by Hoërskool Florida aanvaar het, as hoof waargeneem.

Die bestuur sien sy lang verbintenis met Jannas as ‘n pluspunt, aangesien hy die skool en die gemeenskap baie goed ken.

Volgens Marius van Rooyen, voorsitter van die SBL, is Sarel ‘n besondere staatmaker en steunpilaar vir die Jannas-familie en hy is altyd bereid om die ekstra myl te stap. Hy het vertel dat Sarel geliefd is onder die personeel en leerders omdat hy uiters bekwaam en taakgerig is en terselfdertyd leerders, ouers en personeel met respek behandel.

Sarel is ‘n ongelooflike administrateur en alle fasette van sy werk dra ‘n stempel van deeglikheid en planmatigheid.

Sarel is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging en het groot drome vir Hoërskool Jan Viljoen. Jannas vier boonop vanjaar hul 80ste verjaarsdag en daarom is hul jaar tema: Trots en kragtig op 80!

Volgens Almarie Katzke, departementshoof, is Sarel ‘n uitstekende leier en kweek respek en lojaliteit met sy bestuurstyl. Volgens haar is van sy grootste bates sy kalmte en dat hy daarin glo om personeel te bemagtig.

Almarie het vertel dat sy hom ken as ‘n nederige man wat waardegedrewe leef. Sy het gesê Sarel en sy vrou, Enza, is ‘n gedugte span en sy is baie ondersteunend. Enza is die Departementshoof: Engels by Jannas.

Johan Oberholzer, adjunkhoof, het Sarel beskryf as ‘n ervare onderwysman wat glo aan deelnemende bestuur. Volgens hom het personeel groot waardering vir sy vermoë om vernuwend en kreatief te dink.

“Hy is nie net ‘n leier nie, maar ook ‘n doener,” het hy gesê en tong in die kies bygevoeg dat Sarel hom aan Duitse presisie herinner: zero defek!

Ashley Cowan, president van die Hoërskool Jan Viljoen Seniorraad is van mening dat Sarel ‘n briljante hoof sal wees en dat sy en die Verteenwoordigende Raad van Leerders baie opgewonde oor sy aanstelling is. Hulle het al baie nou saam met hom gewerk in die jare toe hy hulle as VRL-voog geïnspireer het, en die respek waarmee hy alle mense behandel, het haar nog altyd beïndruk.

Die Jannas-span sien daarna uit om ‘n nuwe, opwindende reis saam met hul nuwe hoof aan te pak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button