MunicipalNews

Die plan om begraafplaas reg te ruk

Paartjie van Randgate het besluit om iets omtrent die toestand van die Greenhills-begrafplaas te doen. Jy kan ook deel hiervan wees ...

‘n Paartjie van Randgate het besluit om iets omtrent die toestand van die Greenhills-begraafplaas te doen.

Vilaine van Greunen en Adrian Lerm beoog om op 2 en 3 Februarie daad by die woord te voeg en met hul skoonmaakveldtog te begin. Hulle nooi die hele gemeenskap om deel te wees van hul opkikkerplan. Tussen 40 en 50 mense is glo reeds aan boord. Die organisasie Hope for the Future van Krugersdorp is ook betrokke en hulle wil soveel mense as moontlik betrek.

“Dit is ‘n oogseer. Bossies groei by grafte uit, grafstene is na aan omval en mense kry skaam om hul geliefdes of vriende hier ter ruste te lê,” het Adrian gesê.

Volgens hulle kla die mense reeds nagenoeg vyf jaar oor die toestand van die begraafplaas. Die Herald het al die een artikel na die ander oor die toestand van die begraafplaas gepubliseer.

“Mense kla verskriklik oor die plek maar niks word gedoen nie. Ons gaan ‘n verskil maak en hierdie gemors skoonmaak. Dit lyk sleg en is boonop gevaarlik,” het Adrian verder gesê.

Lees ook: ‘n Skande van ‘n begraafplaas ontbloot

Volgens onbevestigde berigte is ‘n vrou drie jaar gelede aangeval terwyl sy by ‘n graf gesit en huil het.

Hoe kan jy help?

Adrian het gesê belangstellendes kan die twee dae net opdaag en help.

“As jy wil kom bossies uittrek, ‘n grassnyer in jou garage het wat net daar staan, ‘n tuindienstebesigheid besit of jou eie twee hande wil gebruik om te help, sê ons nou al dankie.”

Wat die Herald interessant vind is dat nie een van Vilaine of Adrian se geliefdes in die begraafplaas begrawe is nie. Daar is wel van Adrian se vriende daar ter ruste gelê is maar volgens die twee wil hulle net ‘n verskil maak.

Dit doen hulle reeds op ander maniere ook. Elke Sondag bedien hulle warm kos wat by hul huis voorberei is, aan ongeveer 225 minderbevoorregte mense.

“Ek wil ‘n verskil in Randfontein maak; die skoonmaak van die begraafplaas is stap twee, die kos vir die mense was stap een,” het Adrian vertel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button