Rosa oppad om te blom in Bulgarye!

Rosa: "My motto is, 'Get up, pray up, crown up, rise up and soar'."

Rosa van Niekerk, 40, wat die titels van Mrs Grand South Africa 2017 en Public Choice verower het, gaan Suid-Afrika in die Mrs Classic Universe-skoonheidskompetisie in Sophia, Bulgarye te verteenwoordig. Die kompetisie word van 19 tot 23 Januarie gehou.

Rosa, ‘n inwoner van Westonaria wat ook daar as prokureur praktiseer, het vertel dat hulle op 17 Januarie vertrek en die volgende dag in Bulgarye sal aankom.

In dié skoonheidskompetisie is daar drie afdelings: Aanddrag, wat geborg word deur Kyno Concilli; Kultuurdrag, wat geborg word deur Miss Boss Couture in Johannesburg; en ‘n Talent-afdeling. Sy gaan aan dié kompetisie deelneem aangesien sy die Mrs Grand 2017-titelhouer is.

Haar tradisionele uitrusting is gebaseer op ‘n protea. Haar kroon van krale beeld die blom uit.

Rosa is baie passievol oor mishandelde vroue en kinders omdat sy dit self jare gelede ervaar het en is tans besig met ‘n Handsakke- en Hakke-veldtog vir die vroue van Bethesta House in Brakpan. Sy het vasgestel dat baie van die vroue wat in die plek van veiligheid bly, se kinders ook daar woon en dat enige vroue- en kinderklere welkom is. Rosa vra dat weldoeners gebruikte skoene, klere, handsakke of kinderklere skenk. Mense kan haar skakel of dit by haar kantoor afgee. Sy wil dit graag gaan oorhandig voordat sy Bulgarye toe gaan.

“Ek hou baie praatjies oor my motto, ‘Get up, pray up, crown up, rise up and soar’,” het Rosa vertel.

Sy doen ook tans die Bee-projek saam met die Westonaria-hof. Bye met groot lywe en klein vlerkies wat van materiaal gemaak is, word vir die vroue en kinders gegee om hulle voor te berei om teen hul aanvallers in die hof te gaan getuig. Die idee daaragter is om vir die slagoffers te verduidelik dat bye tegnies nie behoort te kan vlieg nie omdat hul lyfies te groot is in verhouding met hul vlerkies. Maar omdat bye glo hulle kan vlieg, kry hulle dit reg. So leer die vroue en kinders om te sê, “I can be strong, I can testify”.

“Ek sal dit waardeer as die lesers my amptelike Facebook-blad Zee World Mrs Grand South Africa 2017 Rosa Van Niekerk, kan gaan gaan ‘like’. Ons gaan baie van die foto’s daar plaas,” het sy gesê.

Die lesers kan haar ook op Instagram volg by rosavanniekerkmrsgrand2017 vir die jongste nuus oor haar deelname. Rosa weet nog nie wanneer die lyne waarop mense kan stem, oopgestel gaan word nie, maar sy sal die lesers so gou moontlik laat weet. Daar is ook ‘n Facebook-blad vir die kompetisie, met die naam Classic Universe.

Rosa is al 12 jaar lank getroud en het twee kinders. Haar ander groot liefde is perde.

Bethesta House

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version