Verloofde paartjie oorleef gru-motorfietsongeluk

Verloofde paartjie se troue byna net 'n droom na gru-motorfietsongeluk kort voor Nuwejaar.

‘n Gru-motorfietsongeluk kort voor Nuwejaar het byna ‘n verloofde paartjie se drome laat ontspoor.

Lees die oorspronklike artikel hier: Gru-motorfietsongeluk kort voor Nuwejaar

Suretha Button, 50, en haar verloofde Des O’Neill, 62, wat in Augustus vanjaar trou, is Saterdag, 30 Desember ernstig in die ongeluk in Westonaria beseer. Des het kritieke beserings opgedoen en in die proses sy regterbeen verloor. Volgens Suretha was hulle op hul Honda Blackbird (1100cc) op pad om te gaan geld trek toe die ongeluk gebeur het.

Des, wat tans in die Netcare Milpark Hospitaal verpleeg word, was vier dae lank in die intensiewesorg-eenheid. Behalwe dat sy been onder die knie geamputeer is, is daar ‘n klomp frakture in sy regterarm, ‘n sny aan sy regteroog, sy lyf is vol kneusplekke, sy linkerbeen is beseer en die kleur van sy oë verskil. Suretha was drie dae lank in die Lenmed Randfontein-hospitaal se intensiewesorg-eenheid en is Woensdag, 3 Januarie ontslaan. Sy het ook talle kneusplekke.

“Toe ek sy been daar sien lê, het ek gedink hy’s dood,” het Suretha vertel.

Sy het verduidelik wat die dag gebeur het en dat dit geensins ‘n geval van roekelose bestuur was nie.

“Ons het van Libanon af in Westonaria ingery. Ons het oor hobbels gery en by ‘n vierrigtingkruising by Bridget’s-kafee gestop. Ons het toe so ‘n entjie verder teen 60km/ h in die regterbaan gery. Ek het ‘n insleepwa gewaar wat doodstil in die baan gestaan het, asook vier mans wat daar doenig was. Oorkant hulle het ‘n kar in ‘n oprit gestaan en dit het gelyk of hulle hom gaan insleep. Die hele pad was basies versper, behalwe vir die linkerbaan. Toe ons weer sien, is daar ‘n staalversterkte insleepkabel voor ons. Ek het geskreeu ‘Des, daar’s ‘n tou’, maar dit was te laat.”

Suretha het die steen in haar verloofring tydens die ongeluk verloor.

Suretha het vertel dat toe hulle die kabel teen 60km/ h tref, is Des agtertoe van die motorfiets af geslinger. Suretha het deur die lug getrek en nege meter verder te lande gekom.

“Was dit nie vir die Here se Hand nie, was ons nie meer hier nie. Ek was nie vir een sekonde bewusteloos nie. Ek het op my maag gelê en vir Des geroep, maar ek het net kort-kort ‘n kreungeluid gehoor.”

Suretha het vertel dat toe die polisie vir haar sê dat hulle haar nie kon help nie, het sy ‘n boodskap op ‘n WhatsApp-groep getik en ‘n roerende stemboodskap gelaat waarmee hulp ontbied is.

Suretha voel dat iemand daardie dag nalatig was.

“Mense moet meer vir hul medemens omgee. Ek voel hulle kon ons gewaarsku het. Direk na die ongeluk het hulle die bloed van die insleepwa afgespuit asof ‘n voël daarin vasgevlieg het.”

Volgens haar was daar geen waarskuwing nie en hulle het ook nog geen verskoning ontvang nie.

Lees ook: Geliefde Jannas-onderwyser sterf in ongeluk

Sy bedank graag die president, first lady en ‘spoke’ van Ghost Riders South Chapter-motorfietsklub (waarvan hulle lede is), asook alle mediese personeel, Eurika Lusse (haar beste vriendin), drankwinkelpersoneel wat ys gebring het om op se Des wond in te sit, die onbekende vroulike paramedikus wat volgens Des kop gehou het totdat die res van die mediese span opgedaag het asook familie en vriende vir hul bystand in hierdie moeilike tyd.

“Ons gaan weer ry. My werk op aarde is nog nie klaar nie,” het Suretha afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version