Wenke vir onderwysbeplanning in 2018

'n Onderwyser van Laerskool Randfontein gee wenke oor beplanning vir haar kollegas vir die nuwe skooljaar.

Die Herald het met ‘n onderwyser by Laerskool Randfontein gesels wat wenke vir haar kollegas gegee het vir hul beplanning vir die nuwe skooljaar.

Daar is baie wat glo dat onderwysers net halfdag werk, maar agter die skerms gebeur daar soveel waarvan niemand anders as net ‘n onderwyser weet nie.

“Dit is altyd vir my opwindend om deeglik voor te berei vir ‘n nuwe kwartaal of jaar. Daarom gee ek graag my vyf wenke vir deeglike beplanning,” het Melani Bosman gesê.

• Sy kies eerstens elke jaar ‘n nuwe tema en verf vir haar klaskamer. Dan maak sy haar klaskamer deeglik skoon, pak die kaste reg en herrangskik die benodighede en hulpmiddels wat sy daar hou.

• Sy trek dan haar lêers en boeke met nuwe papier oor, en sorg vir nuwe skryfbehoeftes in haar pennesak. Vir haar is dit net so belangrik soos vir die leerders.

• Daarna teken sy haar assesseringsdatums op ‘n kalender aan en begin daarvolgens beplan. Sy gryp nie net die handboek en stel toetse daaruit op nie. Sy gaan soek nuwe leesstukkies, grafieke en sketse wat leerders se aandag sal trek, en stel toepaslike vrae op wat ook van die leerders vereis om hul opinies te gee. Sy berei aktiwiteite voor wat sy as assesserings kan gebruik, en wat veral onderrig en leer vir leerders opwindend maak. Om net ‘n toets te gee waarvoor hulle moet leer, is nie noodwendig iets wat hulle geniet nie.

• Vierdens is die beplanning van hulpverlening en bevorderingsaktiwiteite van kardinale belang om leerders te help wat sukkel om aspekte te verstaan, en om vir dié wat vinniger as die res werk, aktiwiteite te kan bied wat hulle sal help en hul leer sal bevorder.

• Die vyfde wenk is dagbeplanning, iets wat elke onderwyser daagliks byderhand moet hê. Wanneer jy by jou klas instap moet jy weet wat jy vandag vir die leerders gaan leer. Dit lei tot georganiseerde onderrig.

“Maak vir jouself ‘n daaglikse beplannings-lêer waarin jy die aktiwiteite klaar uitgeskryf en opgesom het. Dit help ook dat wanneer iets voorval en jy die dag nie daar kan wees nie, ‘n studentonderwyser kan voortgaan en jy verseker is dat die werk volgens jou standaarde voltooi word,” het Melani gesê.

Sy het ook gemaan dat leerders aanvoel wanneer ‘n onderwyser georganiseerd te werk gaan en wanneer nie. Goeie organisering skep ‘n rustige atmosfeer in die klaskamer omdat die onderrigstruktuur georganiseerd is. Dit kan slegs deur deeglike beplanning bereik word.

Sterkte vir 2018!

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za  (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites

Roodepoort Record

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Exit mobile version