Local newsNews

Modelakademie reik uit na kinderhuis

Smiling Angels maak staat op die goedhartigheid van die gemeenskap.

Die Emerald Modelling Akademie van Randfontein met Rochelle van Staden se hulp het op Saterdag, 2 Desember ‘n Kerspartytjie vir Smiling Angels-kinderhuis in Tarlton gehou.

Rochelle, wat in Randfontein werk, het te hore gekom van die huis waar agt kinders – ses seuns en twee dogters – tussen die ouderdom van drie en 17 versorg word. Sy het haar kollega, Randfontein-inwoner Chandre Hall betrokke gekry by die liefdadigheidsprojek.

Sy het van haar ander kollegas gevra om te help en so het een van die modelakademiekinders, Sinead Hall – Chandre se dogter – haar modeljuffrou, Esmarilda Nortje en sommer ook die hele modelskool gevra om by te dra. Sinead het ook ‘n skoenboksprojek vir die kinders begin omdat sy graag ander kinders help.

Almal by die akademie het ingestem, en ouers en studente het vir elke kind ‘n present opgemaak asook gesorg vir skryfbehoeftes, toiletware, ‘n lekkergoedpakkie en kolwyntjies.

‘n Aantal ouers het niebederfbare produkte en skoonmaakmiddels ingesamel en dit ook aan Mona Lessing, die kinders se huismoeder gegee. Die huis het maandelikse uitgawes wat hulle moeilik bybring, veral as daar daagliks vir agt kinders kos, klere en vervoer voorsien moet word.

Hierdie kinderhuis is 15 minute buite Randfontein en dit is hartseer om te dink daar is sulke huise in ons omgewing wat nie deur die staat gehelp word nie.

Smiling Angels maak staat op die goedhartigheid van die gemeenskap om in hul basiese behoeftes te voorsien. Dit is ‘n geregistreerde organisasie, en het baie hulp nodig.

Op Kersdag gaan ‘n paar van die Emerald Modelling Acadamy-modelle weer ‘n draai by die kinderhuis maak om vir die agt kinders sowel die huisouers ‘n heerlike Kersete voor te sit.

“Dit is baie hartseer dat baie mense elke aand kan eet en bad, en Kersfees kan geniet, maar ons dink nie altyd aan ander wat nie so geseën is nie,” het Chandre gesê.

.

Die modelle van Emerald Modelling Academy. Foto: Ingestuur.

Enige iemand wat betrokke wil raak of ‘n donasie wil gee vir hierdie huis se Kersete kan vir Esmarilda van Emerald Models by 082 550 5919 kontak.

Hulle wil alles teen 22 Desember gereed hê en dan die ete vir 25 Desember voorberei.

Die modelskool beoog om Smiling Angels reg deur 2018 gereeld met kos, niebederfbare produkte, skoonmaakmiddels ensovoorts te help.

Diegene wat finansiële ondersteuning wil gee, kan vir huismoeder Mona Lessing skakel by 072 804 6171.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button