NewsSchools

Drie hoofleiers uit een gesin

Giselle, Roché en Kieren Rautenbach is al drie hoofleiers in hul Graad 7-jaar by Laerskool Randfontein aangewys.

Drie hoofleiers, een gesin en drie verskillende persoonlikhede.

Giselle, Roché en Kieren Rautenbach is al drie hoofleiers in hul Graad 7-jaar by Laerskool Randfontein aangewys.

Giselle het die tradisie in 2014 begin. Sy het aan die Herald vertel dat sy met haar onderhoud gevra is, “Wat is die eienskappe van ‘n goeie leier?”.

Giselle Rautenbach. Hoofdogter 2014.

Sy het trots geantwoord dat die eienskappe van ‘n leier liefde, vreugde, vrede, goedhartigheid, nederigheid, getrouheid en selfbeheersing is.

“Wanneer jy oor hierdie eienskappe beskik, sal jy enige situasie kan hanteer wat oor jou pad kom,” het Giselle gesê.

Die drie leerders se ouers, Chanel en Gerhard, het trots vertel dat hulle nie hul kinders doelbewus voorberei het om hoofleiers te word nie. Hul hartsbegeerte vir hul kinders is nog altyd dat dit wat God oor hul lewens gedroom het, bewaarheid moet word.

“Die kinders het wel vir hulself doelwitte gestel en dit probeer bereik, hetsy akademies, op sport- en kultuurgebied. Met kinders wie se persoonlikhede so verskil, glo ek nie aan ‘n spesifieke wenresep nie. Doen waarvoor jy lief is en wees altyd net jouself,” het Chanel gesê.

Kieren Rautenbach Hoofseun 2018.

Giselle was vanjaar in Graad 10. Sy was nog altyd pligsgetrou en gee 110 persent. Deur harde werk, uithouvermoë en nederigheid is sy in 2010 as Miss Petite SA gekroon. Sy was in haar kroningsjaar by talle liefdadigheidsprojekte betrokke. Sy glo dat sy toe haar liefde vir mense ontdek het.

“Dit was ‘n groot voorreg om in 2014 as hoofmeisie gekies te word,” het Giselle gesê.

Sy was van Graad 4 tot Graad 7 die duxleerder asook die veelsydigste leerder in die skool. Giselle is saggeaard, liefdevol maar bowenal ‘n kind van God. Alles wat sy doen en bereik is tot eer aan God. Haar raad vir haar boetie wat in 2018 sy plek as hoofseun moet volstaan is, “Jy is nie in beheer van elke situasie nie, maar jy is in beheer van jou houding en hoe jy dit hanteer”.

Roché Rautenbach. Hoofseun 2016.

Roché was vanjaar in Graad 8 en verkies die buitelug. As hy sport beoefen, is hy in sy element, ongeag of dit rugby, gholf, tennis of krieket is. Op akademiese gebied was hy van Graad 4 tot Graad 7 onder die Top 10-leerders.

In 2010 is hy aangewys as Mnr Tiny SA. “Vir ‘n graadeentjie wat net wou buite speel was dit vir hom ‘n uitdaging om liefdadigheidswerk te doen, maar daardeur het hy geleer dat ander mense ook saak maak,” het Chanel gesê.

Roché werk hard, veral op sportgebied – tot sy ma se ontsteltenis. Hy wil graag vir die Proteas speel. Roché se raad vir Kieren asook sy motto in die lewe is, “Moenie beter as iemand anders probeer wees nie, probeer beter wees as wat jy self gister was”.

Kieren is ‘n perfeksionis van formaat. Dis óf reg, óf verkeerd – niks tussenin nie. Hy is baie gesteld op sy akademie – en sy voorkoms – en gee altyd sy beste. Hy was ook ‘n Top 10-leerder van Graad 4 tot Graad 6. Hy presteer op alle gebiede, soos in drama, redenaars en skaak. Op sportgebied is hy lief vir hoogspring en krieket. Hy was bevoorreg om lid te wees van die Gauteng-Wes-krieketspan.

“Kieren spaar homself nie want hy wil alles reg en perfek doen. Dit is ‘n eienskap wat tegelyk positief en negatief kan wees – positief in die sin dat hy hard werk en alles wat hy aanpak suksesvol is, maar ook negatief omdat hy sal moet leer dat alles nie altyd volgens plan verloop nie en dat mens aanpasbaar moet wees,” het Chanel gesê.

Die aand toe Roché as hoofleier aangewys is, was Chanel bekommerd oor Kieren wat toe in Graad 4 was. Sy het die aand vir hom gesê dat om as ‘n hoofleier gekies te wod, nie noodwendig van jou ‘n beter of ‘n slegter mens maak nie.

“Die druk was op my, omdat my sussie ‘n hoofleier was,” het Roché gesê.

Chanel en Gerhard probeer hul kinders aan alle moontlikhede blootstel. Hulle glo dat hulle dan hul eie besluite moet neem.

“God is aan die stuur van ons lewens en ons leer hulle om alles eers voor Hom neer te sit en om Sy wil te vra,” het Chanel gesê

Die feit dat al drie hul kinders as hoofleiers aangewys is, beskou hulle as ‘n groot seën. Roché en Giselle wens Kieren alle sterkte toe met sy taak in 2018.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button