CrimeNews

Twee honde glo vergiftig in Vleikop

Twee honde is onlangs glo vergiftig, eienaar vermoed huis is geteiken.

Karen (nie haar regte naam nie weens vrees vir haar veiligheid) wat op ‘n kleinhoewe in Vleikop woon, se twee honde is onderskeidelik op 17 en 29 November na bewering vergiftig.

Karen het twee kinders van drie en agt jaar oud. Haar man is op die oomblik weg vir sake, en na die insidente moes sy iemand vra om by haar en haar kinders te gaan woon totdat haar man terug is.

Die egpaar was glo onlangs betrokke by ‘n dispuut oor ‘n voertuig. Dit was so erg dat die polisie se hulp ingeroep is.

Die persoon met wie daar onenigheid was, het volgens Karen voor die polisie gesê, “Ek gaan jou honde doodmaak”. Sy is baie ontsteld omdat die polisie glo niks oor die dreigement gesê of gedoen het nie.

Lees ook: Wat om te doen as … jou hond vergiftig word

Die Herald het gister die kleinhoewe besoek en die oorskot van die Amerikaanse veghond gesien. Volgens Karen het die dier twee dae tevore siek geword en vinnig verswak. “Mense dink hul honde gaan vinnig dood as hulle byvoorbeeld die bekende Two-step inkry,” het sy gesê. Sy beweer dat ‘n ander tipe gif gebruik is om haar hond dood te maak. “My hond se laaste ontlasting was soos teer,” het sy bygevoeg.

“Ek is vrou alleen hier op die kleinhoewe. ‘n Paar nagte gelede het ek mense met flitsligte in die veld gesien. Die Gemeenskapspolisiëringsforum se mense kon my nie dadelik help nie, want ek was nog nie op hul groep geregistreer nie,” het Karen verduidelik.

Dokter Hendrik Naudé van die Randfontein Dierehospitaal het vandag (1 Desember) telefonies vir die Herald vertel dat hy nie weet van dié gif wat honde stadig doodmaak nie.

Karen het egter gesê dat sy op die internet gelees het dat daar inderdaad sulke gifstowwe is.

Die Herald wag op kommentaar van die polisie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button