Local newsNews

Help, my dier het hulp nodig!

Die Herald het onlangs aan die Culemborgpark Dierekliniek se deur gaan klop om te vra wat mens moet doen as jou dier dringend behandeling nodig het en geen veearts beskikbaar is nie.

Veeartse het beperkte spreekure, maar wat doen jy as jou geliefde dier onmiddellik behandeling nodig het?

Die Herald het onlangs aan die Culemborgpark Dierekliniek se deur gaan klop en met dokter Doret du Plessis hieroor gesels.

Dokter Doret du Plessis.

Sy het gesê sy glo daaraan dat ‘n veearts eerder as eienaars ‘n siek of beseerde dier moet behandel.

“Moet nooit raai wat met jou dier fout is en dit self probeer behandel nie,” het Doret gesê.

Sy het die volgende scenario’s ter illustrasie genoem:

• Jou dier wil nie eet nie: Probeer bederfkossies soos die witvleis van hoender of lewertjies. As jou dier dit nie wil eet nie, moet hy dadelik by ‘n veearts uitkom.

• Jou dier het gif ingekry: Neem hom dadelik veearts toe. Moenie enige medikasie probeer gee as die hond braak nie, dit kan in sy longe beland. Probeer altyd ‘n monster of die naam van die gif vir die veearts gee.

• Jou dier verstik of sukkel om asem te haal: Verwyder die voorwerp indien moontlik. Neem hom dadelik veearts toe indien jy dit uitkry nie of as die dier asemnood het. Hou die dier regop en moenie hom te veel hanteer of vasdruk nie.

• Jou dier het ‘n elektriese skok opgedoen: Skakel die hoofskakelaar af voordat jy aan die dier raak, of skuif die dier met ‘n besemstok van die gevaar af weg. Doen hart-long-massering indien nodig en kry die dier so gou moontlik by die veearts.

• Epileptiese aanval: Moenie die dier se tong uittrek nie. Maak seker hy is in ‘n veilige omgewing en hou hom rustig. Neem hom so gou moontlik veearts toe.

• Bloeding: Plaas druk op die area wat bloei en draai ‘n verband om die wond indien moontlik. Maak seker dit is nie te styf nie. Neem hom dadelik veearts toe.

• Brandwonde: Spoel af met koue water en neem hom so gou moontlik veearts toe. Brandwonde ontwikkel baie maklik infeksie.

• Hitteslag (heatstroke): Koel die dier so gou as moontlik met koel water af en plaas hom onder ‘n waaier sodat die hitte kan ontsnap. Neem hom veearts toe, al lyk hy beter.

• Sukkel om te urineer: Dit is ‘n noodgeval, moenie wag nie. Neem hom dadelik veearts toe.

• Braak en diarree: Gee vloeistof met elektroliete om te drink. As dit lyk of die dier ontwater, as die braking/ diarree langer as 24 uur aanhou of as daar bloed in die braaksel of diarree is, neem hom veearts toe om te bepaal wat die oorsaak daarvan is.

• Trauma: Neem hom veearts toe, al lyk dit nie vir jou erg nie.

• Allergiese reaksie: As die oë en/ of lippe opswel en knoppies oral op sy liggaam begin uitslaan, kan jy hom pediatriese anti-allergiestroop gee. Neem hom dadelik veearts toe.

• Wanneer in kraam, neem die dier veearts toe indien:

• Na 20 minute van kontraksies geen kleintjie gebore is nie

• Meer as twee uur verloop het na die vorige kleintjie gebore is sonder dat nog hul verskyning maak

• Daar ‘n groen afskeiding is sonder dat enige kleintjie gebore is

• Bloeding langer as 10 minute aanhou

Doret het dit beklemtoon dat mens nie alles op die internet moet glo nie. “As jy iets nie self sal drink of vir jou kinders sal gee nie, moet dit ook nie vir jou diere gee nie,” het sy gesê.

Diere-eienaars moet ook nie te lank wag voordat hulle ‘n siek dier vir behandeling neem nie. Diere mag ook geen medikasie met aspirien of ander pynstillers ingegee word nie.

“Vetterige kos en bene is ook gevaarlik. Honde kou klein stukkies van die been af en dit veroorsaak obstruksie in die derms,” het Doret gewaarsku.

Die noodnommer vir die Westrand Emergency Vet Clinic in Roodepoort is 011 475 2833. Hulle is snags van 7nm tot 7vm oop. Diere-eienaars kan dan hul diere daarna na hul gereelde veearts toe neem.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button