MunicipalNews

Plaasaanvalle: Memorandum aan polisie oorhandig

AfriForum: Die boere word aangeval en vermoor. Die polisie het 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om hul pligte na te kom.

Die AfriForum Westonaria-tak het op Dinsdag 21 November ‘n memorandum oor plaasaanvalle by die plaaslike polisiestasie ingedien.

Die memorandum oor die realiteit van plaasaanvalle in Suid-Afrika is by meer as 100 polisiestasies reg oor die land en ook by verskeie ambassades en mediagroepe ingedien. Daarin word beklemtoon dat daar net ongeveer 32 000 kommersiële boere in Suid-Afrika oor is. In 1980 het die getal op 128 000 gestaan, en in 1997 was daar 58 000.

Ester Swart oorhandig die memorandum aan kaptein Theunissen.

“Die boere word aangeval en vermoor. Die polisie het ‘n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om hul pligte na te kom. Die memorandum gee ook AfriForum se standpunt daaroor weer,” het Ester Swart, sekretaresse van AfriForum se Westonaria-tak gesê.

‘n Berekening van die moordverhouding per 100 000 toon dat Suid-Afrikaanse kommersiële boere 26 keer meer gevaar staan om vermoor te word as die wêreldgemiddelde, vier en ‘n half keer meer as die gemiddelde Suid-Afrikaner en byna drie keer meer as die gemiddelde polisiebeampte.

Lees ook: Farm attack: Elderly woman tortured with drill

AfriForum het aandag aan die volgende punte in die memorandum gegee:

• Die totstandkoming van formele samewerkende raamwerke met die polisie op ‘n stasie-, groep- en provinsiale vlak. Hierdie raamwerke moet bestaan volgens die raamwerk en riglyne van gemeenskapspolisiëring

• Die ontwikkeling van inligtingsnetwerke in samewerking met die polisie en gemeenskappe in landelike gebiede

• Die ontwikkeling van die bestaande gebeurlikheidsplanne met die polisie en om hierdie planne ooreenkomstig te implementeer

• Die intensivering van bewustheid met wenke en praktiese riglyne om gesinne, werknemers en eiendom op plase te beskerm

• Vestiging van permanente polisie-lugvleuelondersteuning vir landelike gebiede in elke provinsie, veral provinsies wat deur hierdie aanvalle bedreig word

• Die bevordering van stewige betrekkinge tussen die polisie en enige ander organisasie wat by landelike veiligheidsinisiatiewe betrokke is

• Die vestiging van die sogenaamde goue driehoek van gemeenskapsveiligheid, naamlik die polisie, die gemeenskap en privaat sekuriteit

• Hulp aan boere en hul werkers met opleiding en om operasionele kapasiteit te verkry waardeur hulle die polisie kan help om landelike veiligheid te verseker

AfriForum en verskeie ander organisasies sal op Saterdag, 25 November ’n protesoptog na die Uniegebou hou om ’n memorandum aan die president te oorhandig. Daarin sal die realiteit van die aanvalle, die feit dat die Suid-Afrikaanse regering al hoe minder prioriteit aan hierdie aanvalle gee en verskeie praktiese stappe om soortgelyke voorvalle te voorkom, vervat wees.

AfriForum is ‘n burgerregte-organisasie wat die beskerming van minderheidsregte bevorder en reeds meer as 200 000 individuele lede het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button