Local newsNews

Inwoner sterf ná lang siekte

"Ons gaan haar vreeslik mis. Haar plek is leeg" – familielid oor stigter van Mamma's Nest se afsterwe.

Marie Human, 68, ‘n inwoner wat bekend is vir haar welsynswerk in Westonaria, is onlangs oorlede.

Volgens ‘n familielid, Benita du Plessis, is haar tannie Sondagoggend (12 November) in haar slaap dood.

“Sy was die afgelope drie jaar baie siek, maar het nooit opgegee nie,” het Benita gesê.

Marie word oorleef deur haar man Martin, haar twee seuns, Bobby en Wally, haar drie susters, Hilda Mare, Jeanette Swanepoel en Teolonia Kloppers asook haar stiefpa Walter Muller.

Volgens Benita het Marie ‘n tehuis vir straat- en weeskinders met die naam Mamma’s Nest in Westonaria bedryf. Sy het veral na kinders van die Bekkersdal-omgewing omgesien en het nou met maatskaplike dienste in Westonaria saamgewerk.

Lees ook: Geliefde inwoner, Willie Meyer, 78, sterf

“Sy het haar lewe vir die kinders gegee en altyd gesorg dat hulle goed versorg is, ‘n goeie opvoeding het en liefde kry. Sy was ook altyd daar vir almal in die familie. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy kon kook, hekel, brei en het ‘n voorliefde vir pottebakkery gehad. Sy was vreeslik kunstig en het ‘n groot verskeidenheid muurbehangsels en kleipotte gemaak. Sy het ook van blokkiesraaisels gehou,” het Benita vertel.

“Ons gaan haar vreeslik mis. Haar plek is leeg.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button