Dekades lank gelukkig in die dorp

Ontmoet vir Rachel en Willem wat al dekades lank in Randfontein woon.

Rachel, 68, en Willem van Loggerenberg, 69, is twee van dié mense wat die langste in die dorp woon.

Rachel is in 1948 gebore en het in Elandsvlei grootgeword. Willem is in Pretoria-Noord gebore, maar het in 1958 Randfontein toe verhuis. Albei was in Wheatlands Laerskool en Riebeeck Hoërskool, en het verlief geraak toe hulle 17 was.

Hulle is in 1967 getroud en het drie seuns en twee dogters. Vandag is hul die trotse ouma en oupa van 13 kleinkinders en drie agterkleinkinders.

“Ek kan so goed onthou hoe ons altyd met ‘n ossewa gery het tot waar ons wou wees; ons het nie ‘n motor gehad nie,” het Rachel gesê.

Sy het verder vertel dat daar eers in 1963 ‘n busdiens in die dorp was. Willem het daagliks op sy fiets werk toe gery het. Hy onthou hoe hulle Voortrekker-hoedjies gedra het.

Willem het aan die Herald vertel dat R’tein altyd ‘n skoon dorp was en dat die lewe heeltemal anders as vandag was. Daar was ook genoeg werksgeleenthede vir almal, en dié wat nie gewerk het nie is beskou as dié wat nie wou werk nie.

Hy het verder vertel dat Greenhills ‘n beeskamp was. Waar Village Square-winkelsentrum vandag is, was ‘n parkie waar hulle gereeld ontspan het. Die fliek was oorkant Wimpy in R’tein-sentraal.

Ongeveer 26 jaar gelede het hulle Homelake toe getrek en was die eerste inwoners van ‘n bekende woonstelblok. Hulle woon steeds daar en onthaal graag die hele familie.

“Vroeërjare, as ons melk vir ons pap wou hê, het ons beeste gemelk,” het Willem gesê..

Die paartjie het laggend aan die Herald vertel dat hulle as gesin gereeld op Oujaarsaand aan die Fanie van Zyl-wedloop deelgeneem het. Randfontein het diep in hul harte wortelgeskiet en groei daar voort. Hulle glo dat jy moet blom waar jy geplant is. Hulle sien daagliks na hul kleinkinders om en help graag in die gemeenskap.

Die twee is baie geliefd en bekend in die gemeenskap. Hulle beplan om nooit die dorp te verlaat nie omdat die meeste van hul kinders en kleinkinders hier woon.

“Ons het hier gegroei en sal hier sterf,” het hulle gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version