Lewe elke dag voluit – oom Theo

'n 62-jarige inwoner van Greenhills se boodskap aan die gemeenskap is dat almal, jonk en oud, regtig elke dag voluit moet lewe totdat jou tyd kom om te sterf.

Theo Jonker, 62, het sy lewensverhaal vir die Herald vertel om ander daarmee te probeer inspireer. Die Herald het vroeër vanjaar met Theo kennis gemaak toe hy met die uitsonderlike groente uit sy tuin gespog het.

Hy is in 1955 in sy ouers se huis op Loumarina-plotte gebore en woon nog sy lewe lank in Randfontein. Sy was ‘n ambagsman in die mynwese en het by die Randfontein Estates-goudmyn gewerk. Op die vraag of hy ooit bang was om ondergronds te werk, het hy gesê hy was, maar mens raak daaraan gewoond want dit word ‘n leefwyse.

Die liefde van sy lewe is Madelien Jonker, en hulle is al 11 jaar saam. Hulle het saam nege kinders – Madelien se drie en Theo se ses, waarvan sy een seun op ‘n 18-jarige ouderdom in ‘n ongeluk oorlede is.

Lees meer oor Theo: Oom Theo se 37 sentimeter lange wortel!

Theo ly aan veneuse onderbeenulkusse (spataarswere) in albei sy bene, maar sy een been het met behandeling verbeter. Hy kry een keer ‘n maand behandeling daarvoor by Helen Joseph Hospitaal en die res word by Randgate-kliniek gedoen. Aangesien sy bene baie erg aangetas was, is die dokters verbaas dat sy toestand so verbeter het, veral omdat hulle hom nie met voorskrifmedikasie behandel het nie, maar met Nieu-Seelandse manuka-heuning, wat bekend is vir die gesondheidsvoordele wat dit inhou.

Hy het boonop binne drie maande 45 kilogram gewig verloor nadat hy ‘n maagseer ontwikkel het.

Theo het vertel dat as daar een plek in die wêreld is waar hy sou wou vakansie hou, is dit België want, het hy gesê, “Daar is van die oudste historiese geboue en die mooiste natuur”. Theo is nie juis ‘n televisiekyker nie. Hy maak steeds tuin en geniet dit om videospeletjies te speel. Lizel Viljoen, sy stiefdogter, het gesê dat Theo baie hulpvaardig is.

Madelien het gelag terwyl sy gesê het, “Hy is ‘n baie streng man, maar het ‘n baie goeie humorsin. Hy is ook baie liefdevol.”

Theo voel so oor Randfontein: “Ek is baie lief vir die dorp, maar die toestand van die dorp is nie op standaard nie”.

Sy musieksmaak is country- en Christen-musiek. Hy kry sy krag van die Here af, en die spesiaalste oomblikke in sy lewe was toe sy kinders gebore is.

Theo se boodskap aan die gemeenskap, is dat almal, jonk en oud, regtig elke dag voluit moet lewe totdat jou tyd kom om te sterf.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version