‘Grote Griet’, Adelle!

Adelle is baie trots op haar nuwe boek en nooi almal in die gemeenskap om dit te lees. Sy glo dat dit groot genot sal bring.

Plaaslike inwoner Adelle von Ronge Kotze se tweede boek, Grote Griet is nou beskikbaar. Haar eerste boek, Oepse Daisy het sy in November 2015 gepubliseer en dit was ‘n groot sukses.

Grote Griet, die roman/ aksie-/ avontuurverhaal van 469 bladsye het haar ongeveer sewe maande geneem om te skryf. Dagbreek Uitgewers het dit uitgegee.

Die boek is vir oud en jonk en beloof om lesers op ‘n reisavontuur te neem. Die storielyn verloop basies so:

Veldbioloog Magriet Visagie bevind haarself skielik teen haar sin in die yskoue Rusland waar sy en die res van die Big Foot Seekers gaan probeer om ‘n jeti te vang – dit alles in die uiters gevaarlike Dyatlov-pas.

Terwyl hulle die skaam maar ook uittartende jeti probeer fnuik, moet hulle ook die verhaal dokumenteer van ‘n sorgelose groep studente wat soveel jare tevore op dieselfde roete was en uiteindelik op die Berg van die Dood met hul lewens geboet het. Wie of wat vir die tragedie verantwoordelik was, weet niemand nie.

In die onherbergsame wildernis van Siberië herhaal die hartseer en wrede geskiedenis homself amper weer. Terwyl Magriet en haar span deur die wit wildernis ploeg met kameras wat elke minuut vasvang, is hulle opgesaal met ‘n diva van ‘n filmster wat die lewe vir die span verder bemoeilik.

Magriet, wat niks van liefde wou weet nadat haar hart tragies deur ‘n mislukte verhouding gebreek is nie, verloor boonop haar hart op die diva se verloofde.

Om alles te kroon beland sy in ‘n taai situasie weens ‘n seldsame diamant in haar besit, en om sake te vererger word sy ontvoer om vir ‘n klomp honger wolwe gevoer te word.

Sal Magriet en haar vriende lewend hieruit kom?

Sal die KGB haar betyds kan red?

Net tyd sal leer…

Adelle is baie trots op haar nuwe boek en nooi almal in die gemeenskap om dit te lees. Sy glo dat dit groot genot sal bring.

Belangstellendes kan die boek direk by haar teen R280 bestel. Oepse Daisy kan by Books for Africa bestel word.

Kontak gerus vir Adelle by 072 976 4719 of adelevrk@gmail.com.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version