Greenhills-paartjie deel van troukompetisie

'n Paartjie van Randfontein se troue word as een van die land se bestes beskou. Meer hier...

Stel jou jou perfekte troudag voor, maar met vier genooide gaste wat oor alles – van die kos, dekor, die mode tot die partytjie – kommentaar lewer.

Vier glanspersone het onlangs die hele Suid-Afrika deurkruis op soek na die beste troue. Die beoordelaars, Zavion Kotze, Denise Zimba, Siba Mtongana en Cindy Nell het 22 troues bygewoon en haarfyn bekyk. Elkeen het ‘n bepaalde kategorie beoordeel en punte gegee, en aan die einde ‘n punt vir die algehele ervaring toegeken.

Ezel en Henk van der Walt.

Die paartjie met die hoogste algehele ervaring-telling sal die titel van die troue van die seisoen en pryse ter waarde van R800 000 wen.

‘n Plaaslike paartjie, Ezel en Henk Van der Walt wat op 10 Junie vanjaar by Mooiplaatsie Country Estate getroud is, het vir die kompetisie ingeskryf.

“Daar was verlede jaar ‘n advertensie op TV, toe besluit ons om die vorm in te vul. Ons het eers niks van die organiseerders gehoor nie, maar twee weke voor ons troue laat weet hulle ons dat hulle na ons troue toe wou kom. Dit was baie kort kennisgewing, maar ons het die gaste geakkommodeer,” het Ezel gesê.

Ezel het verder vertel dat hulle hul nie oor die vier gaste by hul troue bekommer het nie, en hulself baie geniet het.

Die ondervinding was iets baie spesiaal vir die paartjie, maar hulle was tog skrikkerig oor die punte wat die beoordelaars sou gee.

“Ons het wel agtergekom dat die vorige paartjies se terugvoering nie baie positief was nie,” het Ezel gesê.

Die vier gaste het die dag voor die troue die troupaartjie ontmoet en saam met hulle na die lokaal toe gegaan. Hulle het die paartjie oor hulself uitgevra om hulle beter te leer ken. Die vier gaste was die volgende dag (feitlik) heeldag saam met die paartjie en het saam makietie gehou.

Ezel en Henk se troue is uiteindelik op Sondag 30 Oktober op die M-Net-televisieprogram The Wedding Bashers gebeeldsend en die beoordelaars se kommentaar was baie positief.

Die paartjie vra vir die gemeenskap om vir hulle te stem deur M-Net se webtuiste by m-net.dstv.com/show/the-wedding-bash-ers/rate%20&%20win te besoek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version