MunicipalNews

Owerhede staan saam teen dodelike pad

Owerhede het ingegryp en iets gedoen omtrent die dodelike pad in Dwarskloof.

Nadat die gemeenskap gesmeek, gepleit en petisies ingedien het, is daar uiteindelik na hulle geluister.

Op sosiale media was daar menigmaal kommentaar oor die Dwarskloof- en Wheatlands-kruising wat al verskeie mense se lewens geëis het.

Lees ook: Grandfather, grandson die in car crash

DA-raadslid Alwyn van Tonder het aan die Herald vertel dat hy reeds op 6 September ‘n openbare vergadering oor die kwessie gehou het en dat hy toe ‘n petisie by die Verkeersdepartement ingedien het waarin vir ‘n vierrigtingstop gevra word. Die petisie was daarop gemik om die aansoek en die motivering daarvan te versterk wat die Randfonteinse Verkeershoof, Kenny Mampondo, op provinsiale vlak gaan indien.

“Die kruising val net buite die gebied wat onder die beheer van die Randfonteinse Verkeersafdeling is. Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer moet genader word oor die kruising. Kenny het die week na die vergadering reeds ‘n inspeksie saam met my en raadslid Gerhard Kruger by die kruising gedoen,” het Alwyn gesê.

Ongeveer twee maande gelede was ‘n oupa en sy kleinseun op dieselfde pad in ‘n noodlottige ongeluk betrokke. ‘n Week gelede was daar weer ‘n noodlottige ongeluk. Die saak is onder die Burgemeester se aandag gebring en hy het sy volle steun aan die versoek vir ‘n vierrigtingstop gegee.

Verkeershoof Kenny Mampondo en Alwyn van Tonder.

Die Verkeersafdeling het op Vrydag 20 Oktober die kruising in ‘n vierrigtingstop omskep en beamptes was Saterdag reeds vroeg op hul pos om die wet toe te pas. Hulle het verskeie voertuigbestuurders wat nie by die kruising stilgehou het nie, afgetrek en beboet.

Lees ook: Horror accident in Carletonville

Die vierrigtingstop is egter ‘n tydelike oplossing, maar die pad is geverf en beveilig tot die Departement van Paaie en Vervoer ‘n permanente oplossing kan gee.

Alwyn het aan die Herald vertel dat hy sal toesien dat die versoek gerig word en dit gereeld sal opvolg omdat hy die publiek se belange op die hart dra.

“Dankie Alwyn en die Verkeersdepartement. Dit vrywaar ons nie van enige verdere ongelukke nie, maar hopelik gaan daar nou heelwat mense se lewens gespaar word, ” het Reinette Herbst op sosiale media gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button