Veels geluk Ouma Lettie (nou 95) … omdat jy verjaar!

Inwoner van Vriendskaptuiste met meer as 100 nasate vier haar 95e verjaarsdag.

Lettie Scholtz Gerber van Vriendskaptuiste het Saterdag, 14 Oktober haar 95e verjaarsdag saam met familie gevier.

Ouma Lettie is die oudste inwoner in die Verswaktesorg-eenheid, maar is ook die een wat die meeste lees en ‘n baie skerp humorsin het. Sy het ‘n besonder goeie geheue en onthou haar grootworddae goed. Ouma Lettie se ma is op 93 jaar oorlede.

Willie Scholz en Lettie Scholz Gerber in haar jonger dae met hul oudste kind.

Die Herald het die partytjie bygewoon waartydens haar kinders haar bederf het. Haar dogters is Jakkie van der Watt, Sarie de Jager, Wella Wessels, Meisie Vermeulen, Maryna van Schalkwyk en Alet Venter. Haar seuns is Karel Gerber, Hendrik Gerber, Frikkie Gerber, Lukas (Kassie) Scholtz en Bebbie Scholtz. Sonja Scholtz, Lettie se skoondogter en Daan van der Watt, haar skoonseun het gesorg dat hulle die geleentheid nie misloop nie.

Dié supervrou het 17 kinders, waarvan 11 nog lewe. Die oudste is 72 en die jongste 60. Dit beteken dat sy nagenoeg 12 jaar van haar lewe swanger was. Daan het aan die Herald vertel dat behalwe haar eie kinders, Ouma Lettie nog ses kinders as pleegouer grootgemaak het.

Lettie se familie wys vir haar onlangse foto’s van haar kleinkinders en agterkleinkinders.

“Veertien van Ouma Lettie se eie 17 kinders is tuis gebore. Haar eerste huwelik op 16-jarige ouderdom was met Willie Scholtz. Hulle het saam 14 kinders gehad. Willie is op die ouderdom van 56 oorlede. In 1961 is sy met Carel Gerber getroud en hulle het saam drie seuns. Haar nasate staan tans op 109 – 45 kleinkinders, 45 agterkleinkinders en agt agteragterkleinkinders,” het Daan vertel.

Ouma Lettie het in Kocksoord grootgeword en is ‘n oudleerling van Laerskool Rapportryer. Daan het vertel dat sy ook Laerskool Rapportryer se oudste oudleerling is.

Die Herald het verlede jaar ook oor Lettie berig, en sien daarna uit om volgende jaar haar 96ste verjaarsdag te vier!

95 jaar oud!!

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version