NewsSchools

Ram-leerders en-onnies ruil rolle vir ‘n dag

Laerskool Randfontein se leerders en onnies het rolle geruil ter viering van Wêreld Onderwyserdag en het terselfdertyd geld ingesamel vir die skole in Krugersdorp wat erg beskadig is toe hulle onder 'n tornado deurgeloop het.

Laerskool Randfontein het op Vrydag, 10 Oktober Wêreld Onderwysersdag met ‘n verskil gevier. Hulle het terselfdertyd geld ingesamel vir die skole in Krugersdorp wat erg beskadig is toe hulle onder ‘n tornado deurgeloop het.

Al die onderwysers het soos leerders aangetrek terwyl die leerders soos hul gunsteling onderwyser aangetrek het. Dit het vir groot pret gesorg. Onderwyser Nadia Barkhuizen het soos die hoofdogter aangetrek terwyl ‘n ander onderwyser, Thinus Nortjé soos ‘n hoërskooldogter gelyk het.

Ram-personeel het dit terdeë geniet om vir ‘n dag weer kind te wees.

“Nadat die personeel besluit het om dit te doen, is daar Donderdagmiddag vinnig na skoolklere gesoek.

Personeel het van hul eie ou skoolklere aangetrek of sommer by van die leerders geleen. Oorspronklikheid en kreatiwiteit was aan die orde van die dag met almal wat weer vir ‘n klein rukkie kind kon wees,” het Annie Nolan, skoolwoordvoerder gesê.

Annie was ‘n ‘stout’ kind met die verkeerde skoene en ‘n uithanghemp. Nog ‘n onderwyser, Grace Labuschagne, wou ‘n massa bank reël, maar ongelukkig moes daar nog skool gegaan word.

Annie het vertel dat die leerders die dag baie geniet het. Die seuns het dasse en langbroeke aangehad om soos Leon Haupt, die skoolhoof, te probeer lyk. Dogters het moeite met hul hare gedoen en selfs hoëhakskoene gedra. ‘n Paar het houtlepels en handsakke saamgebring.

Die personeel is toe deur die leiers met ‘n smaaklike middagete getrakteer.

“Onderwys as ‘n beroep in vandag se lewe is baie uitdagend. Daar is lang ure en ekstra moeite wat nie raakgesien word nie. Dit was vir die personeel van Laerskool Randfontein ‘n mooi gebaar van waardering. Ons bedank die leiers van 2017 vir die lekker kos,” het Annie gesê.

Die geld wat tydens die lekker-laf-wees-dag ingesamel is, gaan tussen die rampgeteisterde skole verdeel word. Rammies hoop dat dit sal help dat die skole ‘n bietjie vinniger herstel sal word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button