Sakeman-skietvoorval: Meer feite kom aan die lig

Moordklag bevestig, sekuriteitsmaatskappy gee hul weergawe.

Na die tragiese afsterwe van sakeman Willem du Plessis die afgelope naweek het EPR Sekuriteit ‘n verklaring uitgereik.

Kaptein Appel Ernst, Randfontein Polisie-woordvoerder sal ‘n verklaring uitreik sodra sy die nodige inligting het. Sy het egter bevestig dat ‘n moordklag ondersoek word.

Lees oorspronklike artikel hier: Bekende sakeman onder raaiselagtige omstandighede doodgeskiet

Volgens die verklaring het EPR Sekuriteit om ongeveer 6.20nm op die betrokke dag ‘n oproep van die slagoffer se seun ontvang. Hy het gesê dat sy gewonde pa in die huis lê.

Johan Krogh, algemene bestuurder van EPR West Rand het verduidelik dat toe EPR se areavoertuig en die skofleier op die toneel aankom, is hulle in die huis ingeneem waar hulle Du Plessis in die gang aangetref het, na bewering met skietwonde.

Du Plessis se vrou het langs hom op die vloer gesit en probeer om die bloeding met handdoeke te stop.

Die nooddienste is ontbied en terwyl daar vir die paramedici gewag is, het ‘n EPR taktiese bestuurder, Paul Putter noodhulp toegepas nadat hy ‘n baie lae pols by die slagoffer waargeneem het. Toe die nooddienste op die toneel aankom, het Du Plessis ongelukkig reeds aan sy wonde beswyk. Hy is op die toneel dood verklaar.

Die toneel is aan die Randfontein Polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

“Ons innige meegevoel en simpatie,” het Krogh namens EPR Sekuriteit gesê.

Nita Oosthuizen, Du Plessis se kleinniggie, het aan die Herald bevestig dat Du Plessis die eienaar was van Love a Pet, ‘n bekende dierewinkel in die gemeenskap. Die gemeenskap in en om Randfontein is geskok deur sy skielike en tragiese dood.

Lees ook: Besigheidseienaar geïdentifiseer na skietvoorval

“Willem het ‘n verskriklike groot liefde vir diere gehad – vir diere was sy hart baie, baie klein. Sy grootste liefde was Amerikaanse veghonde. Ons innige meegevoel met die res van die familie, vriende en gemeenskap,” het Oosthuizen gesê.

ER24-paramedici het op die betrokke dag net voor 6nm die noodoproep ontvang en was kort daarna op die toneel van die skietery. Du Plessis was toe reeds dood.

Die omstandighede waaronder hierdie tragiese skietvoorval plaasgevind het, kan nog nie bevestig word nie. Kaptein Appel Ernst, Randfontein-polisiewoordvoerder het gesê dat sy in hierdie stadium slegs kan bevestig dat daar wel ‘n skietvoorval was.

Du Plessis, sy vrou en seun was glo in die huis toe die skietery plaasgevind het.

Die begrafnisreëlings sal bekend gemaak word sodra die familie dit bevestig het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version