NewsSchools

Hope pret by Jannas op lentedag

Jannas het behoorlik lente verwelkom deur onder andere onderwysers met 'n emmer yskoue water oor die kop te gooi.

Daar was groot opgewondenheid op lentedag by Hoërskool Jan Viljoen. Hulle kon nie wag om die spesiale gebeurtenis behoorlik te vier nie.

Jannas se lentefees het ‘n week lank geduur. Volgens Marlene Venter het die leerders elke dag ‘n spesifieke tema gehad waarvolgens hulle moes aantrek.

“Die Dinsdag was Hippie-dag, Woensdag Mad Hatter, Donderdag was ‘n klassieke dag en Vrydag was die groot dag waarop daar aan verskeie aktiwiteite en speletjies op die sportterrein deelgeneem is,” het Marlene gesê.

Die leerders moes ook vir ‘n bepaalde tydperk herwinbare materiaal bring waarmee ‘n ekstra geldjie vir die skool verdien kon word.

Op Vrydag, 1 September was daar verskeie kompetisies, onder andere ‘n worsroleet-, dans- en band-kompetisie.

Die hoogtepunt van die dag was toe verskeie onderwysers ingestem het om met yskoue water gegooi te word. Leerders het in massas opgedaag om die ongeveer 10 gewillige onderwysers papnat te gooi.

Michelle Myburgh was gereed vir die water.

Die dag is afgesluit toe trofeë aan elke kompetisie se wenner uitgedeel is. Marlene Venter en Leoné Erasmus is die taak opgelê om die trofeë uit herwinbare materiaal te maak.

“Ons het die dag baie geniet en die warm lentedag behoorlik gevier,” het Leoné Erasmus gesê.

Op 15 en 16 September gaan die skool groot makietie hou wanneer die Denimfees plaasvind. Die fees word deur die Woord en Lig Christen Kerk asook ATKV op Jannas se skoolterrein aangebied. Die fees skop die Vrydagaand af met ‘n optrede deur Ampie in die skoolsaal, asook Laerskool Randfontein se koor. Die Saterdag beloof om propvol vermaak en groot pret te wees. Daar sal stalletjies, sang, pom-poms, ‘n baba- en kleuter-, en potjiekoskompetisie, boeresport en springkastele wees. Die aand word daar ‘n Glitzy-denimmodeparade gehou.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button