Randfontein – of Vrotfontein?

Die Herald het agter die kap van byl gekom nadat talle inwoners oor die erge stank in die Greenhills-area gekla het.

Sedert Maandag, 21 Augustus hang daar ‘n onuithoudbare reuk oor Randfontein en die inwoners is keelvol.

Die Herald word nie net oorval met telefoonoproepe van inwoners wat oor die stank kla nie, gegriefde mense daag selfs by die Herald se kantoor op om hul misnoeë te kenne te gee.

Lees ‘n brief van een van ons lesers hier: Randfontein stinks, please help

‘n Inwoner het die volgende epos aan die Herald gestuur: “Ek wil versoek dat u asseblief ondersoek sal instel na die vreeslike reuk wat elke aand oor Greenhills hang. Ek het navraag by ons raadslid Peter Dick gedoen en hy beweer die reuk is afkomstig van Sungate Farms wat hoendermis gebruik vir bemesting. Ons as inwoners het sekerlik darem ook regte in ons dorp en is geregtig op skoon lug. Hoe kan een persoon of instansie deur hul optrede dit vir al die inwoners ondraaglik maak? Die reuk is werklik so erg dat mens naar word. Jy kan nie laatmiddag uit jou huis gaan nie, dit is net te erg. Ek sal graag wil weet wat die Stadsraad se siening hieromtrent is.”

Die Herald het toe begin ondersoek instel en op sosiale media en die Facebook-blad I lived in Randfontein and survived gevra of iemand dalk weet wat die reuk veroorsaak en wat hul mening daaroor is.

Dick is ook genader. Hy het gesê het dat Randfontein en sy omliggende gebiede as ‘n sublandboustreek gesoneer is en dat dit wettig is om mis te strooi.

Matium van Vuuren, Voorsitter van Randfontein se AfriForum-tak het gesê hy dink dat die stank uit die gedeelte agter die begraafplaas kom en dat riool ook ‘n rol speel.

Andre Nunes van Sungate Farms het vir die Herald gesê hulle het twee weke gelede hoendermis gestrooi maar dat dit nou enige tyd sal droog word. Hy het bevestig dat Randfontein ‘n sublandboustreek is.

Tshidiso Tlharipe, die woordvoerder van die Uitvoerende Burgemeester het gesê die saak sal by die betrokke departement aangemeld word.

Ansurié Badenhorst bly in Bootha-plotte en vir haar is die reuk net een te veel.

Hier is van die Facebook-kommentaar:

• Ja dit is net so erg in Randgate, mens kan nie eers jou deure oopmaak nie.

• Wil graag ook weet. Dit vrot. Ons werk in Tambotie Mall en kan nie eers asemhaal met daardie reuk nie.

• Jy moet maar daardie resep aanstuur van hoe om jou asem so lank op te hou, lol.

• Die reuk trek my bors heeltemal toe. Dis erg.

• Vrot hier in Helikonpark ook.

• Wanneer ons verby die rioolplek by die begraafplaas ry, dan wil jy doodgaan van die reuk. Dit kom van daar, en iemand het vir my gesê dit kom ook van Sungate, so ek weet nie.

• Dit is die goed wat hulle op die gras gooi.

• Gewoonlik is dit die rioolreuk wat oor Greenhills hang, maar hierdie ‘nuwe’ reuk ruik soos beesmis. Ek’s seker dit kom van Sungate af …

• Dit ruik baie sterk soos bol!! Partykeer is die stank so erg dit maak mens naar! Jy word skoon in die nag wakker van die sterk reuk! Kyk onder jou skoene, ondersoek die katte want iewers moet ‘n bol wees! Net om te besef dis hoe sterk die stank in die lug is. Nou wonder mens net hoeveel kieme hang saam met hierdie stank in die lug. Ons moet dit maar alles te vars en heerlik inasem?

• Ons bly in Homelake en dit is nie peanut butter-reuk nie!!!!

• Nee jong, almal blameer mos die plaas, ruik soos plaas ensovoorts.

• Sungate Farms wat hoendermis op hul graslande by Greenhills-begraafplaas gestrooi het.

• Elke nou en dan brand iemand iets naby Randgate wat veroorsaak dat my sinusse heeltemal oppak … dan is daar natuurlik Sungate Farms se hoendermisreuk wat ons jaarliks begroet.

• Die stank is in Culemborgpark ook.

• Ja hier in Randgate ook. Ek ruik dit oral. In die mall ook erg.

• Bly ons nou in Vrotfontein? Sal bly wees as daar nou regtig iets aan gedoen kan word. Daar is ‘n groot bedrag geld bewillig vir die herstel daarvan en die reuk is nog net so erg.

• Ons bly in Randpoort en ek ruik dit ook in die oggende.

• Aaklig by Leeulaan …

• Naby vlei … Is dit nie iemand wat humus op hul landery gooi nie?

• Ek het dit ook verlede week geruik en dit is nuut in Randfontein … dit was net te erg … dis verby ‘n vrot reuk! Secunda het nie eers so erg geruik nie al was Sasol daar!

• Sungate. Nog al die jare.

• Dis ‘n nare reuk … soos gelatienfabriek in Krugersdorp.

• By die skool (Riebeeck ) kan ‘n mens skaars konsentreer in die klas! Dis aaklig! Krap sommer mens se dag om as jy heeltyd ‘n manier moet soek om die reuk uit te blok!

• Sungate, dis die probleem. Hul mis wat hulle in lande gebruik. Dink dis vark … ry daar verby as wind waai. Hulle moet vasgevat word.

• My vraag is wat sê Randfontein se gesondheidsinspekteur?

• Dit voel of ons op ‘n beesplaas bly.

• Rioolreuk by ons in Greenhills 3. Die dreine loop ook oor in ons erwe en die riool en gebruikte toiletpapier lê die wêreld vol! Munisipaliteit stuur al ‘n week lank iemand.

• We are Stinkfontein. Not Randfontein.

• Ons is in Greenhils en daai reuk is om van naar te word. Het gewonder of dit nie van rioolplaas af inwaai dorp toe nie, maar dit kan nie so aangaan nie.

• Die reuk in Greenhills kom van die rioolplaas af net anderkant die begraafplaas.

• Wilbotsdal naby Connie Mulder Sentrum – dit vrot!!!!

• Weet ook nie van waar nie maar ruik soos varkmis. Partye dae wil jy nie eers eet nie.

• Aaklig. Mens kan geen vensters of deure oopmaak nie.

• Ja dis vreeslik. Sit soms in my sitkamer en ruik dit.

• I live across the road from the cemetery and nearest to the sewerage farm and believe me … there is nothing worse than waking up in the middle of the night and smelling that crap. The one person I do call and always get answers from is Peter Dick, our Ward councillor.

• Bly naby Sungate Farm. Krisis, dit vrot! Maak asb plan.

• Reuk hang in die huis. As dit nie die poefreuk is nie, ruik dit of hulle iets brand.

• Ook hier in Culemborgpark. Ek wens mense word verbied om dit in die dorp te gebruik.

• Liewe hemel, dis aandetetyd, dan ruik dit so. Daar is baie ander soorte kunsmis wat gebruik kan word.

• Dit is al aan die DA gerapporteer en net mooi niks word daaraan gedoen. Dis om van NAAR te word.

• Dis rioolplaas se afloop.

• Aaklig. Ek is die eienaar van The Tattered Cover Bookstore en sit buite, snak heeltyd na asem en alles stink!!

• Dit kom van die Bootha-plotte af. Die mense gooi weer vark str*t op die lande.

• Hoekom betaal ons nog vir ‘n diens wat jy niks voor kry nie, wil ek weet???

• Dit is wanneer die wind die reuk van die rioolplaas af versprei. Dit raak erg.

• Loumarina-plotte stink ook party dae erg.

• Die ding is hulle gee nie om nie. Hulle het mense wat nie omgee oor als wat mense pla nie. Randfontein is nie meer soos hy was nie. Dit gaan meer en meer agteruit en versleg erg.

• Dis ongelooflik. Mens is nie eers lus vir kos oor die aaklige reuk nie.

• Ja vrek man. Wilbotsdal … dis walglik … kan dit gestop word?

• Mense, dit is die rioolplaas. Gaan kyk bietjie hoe loop die riool in die stroom net onder dit. Ry elke oggend daar oor. Die water word glo behandel voor dit in moeder natuur loop maar dit lyk soms nog na rou riool.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Exit mobile version