Vog stoot op in Homelake-inwoners se mure

Die eienaars van nagenoeg vyf huise in die Homelake-area het 'n ernstige probleem met vog wat in die mure deurslaan.

Sekere inwoners van Homelake sit met ‘n ernstige vogprobleem.

Vir meer as ‘n dekade lank sukkel hulle met vog wat byna oral in hul huise se mure deurslaan. Die afgelope drie jaar het die probleem egter so vererger dat mense bekommerd is hul huise gaan meegee.

Dié klam en beskadigde muur is in Gerhard se eetkamer.

Esmé en Gerhard Valentin woon die afgelope agt jaar in Homelake. Gerhard het die probleem raakgesien toe vogkolle ‘n paar maande nadat hulle hul huis geverf het, begin deurslaan het.

“Al die mure in die huis lyk so. Daar is nie een muur waarvan die verf nie afdop nie,” het Gerhard gesê.

Gerhard het vertel dat die area ongeveer 100 jaar gelede ‘n vlei was en dat hy vermoed die water begin weer opstoot. Gerhard het vertel dat hul huise op swart kleigrond gebou is, wat ‘n kenmerk van vleie is. Die Herald het met verskeie inwoners in die area gaan gesels en in ongeveer vyf huise dieselfde probleem opgemerk. Met intrapslag tref die klam reuk mens, wat volgens Esmé permanent in hul huis hang.

Lees ook: Riool net waar jy kyk by Homelake-huis

Die inwoners se gras bly deur al die seisoene groen en gaan nooit dood nie. ‘n Ander inwoner, Ronnie van der Beyl het vertel dat hy byna nooit sy tuin hoef nat te lei nie, want die grond bly klam.

Dieselfde muur is minder as ‘n jaar gelede geverf.

“As jy ‘n gat van ongeveer 100mm grawe sal jy papnat grond kry,” het Ronnie gesê.

Die moedelose inwoners het vertel dat die probleem in die reënseisoen baie erger is en dat hulle vrees dat hulle huise inmekaar kan sak. Hulle het glo al verskeie departemente en persone genader oor die probleem, maar die oorsaak kon nog nie opgespoor word nie.

Die volgende persone en departemente is reeds genader:

• Departement van Waterwese

• Die Burgemeester

• DA-raadslede

• Rand West City-munisipaliteit (RWCM)

• Peter Mathebula, die bestuurder van die RWCM Infrastruktuurdepartement

• Myne

• Ander belanghebbers

Die inwoners vrees dat versekeringsmaatskappye nie sal uitbetaal as hul huise meegee nie.

“Ek kan my huis en al my besittings verloor,” het Gerhard gesê.

Ronnie het vertel dat die produkte wat hy al gekoop het om sy huis te verf en waterdig te maak, hom al baie geld uit die sak gejaag het.

‘n Ander inwoner wat anoniem wil bly, het vertel dat sy die eiendomsagent blameer wat die huis aan haar verkoop het, omdat so ‘n groot probleem nie aan haar uitgewys is nie. Sy het ook vertel dat sy nooit die huis sou gekoop het as sy van die probleem geweet het nie.

Die inwoners het saam besluit om petisie op te stel indien die oorsaak van die probleem nie gou opgespoor word nie.

Die Herald het DA-raadslid, Craig Harrison genader vir sy kommentaar.

“Ons het binnekort ‘n raadsvergadering en ek hoop om die situasie met die Burgemeester te bespreek. Ek het ook gereël om die DA MPL na die huise toe te neem sodat die probleem onder die aandag van die Gautengse Provinsiale Wetgewer gebring kan word,” het Craig gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version