Local newsNewsUpdate

Publiek groet dapper sekuritietswag

Tydens die onderhoud was Delport braaf, maar haar trane het vlak gelê.

Marius Nienaber, 42, ‘n dapper reaksie-offisier van Mapogo wat verlede jaar tydens ‘n motorkaping kritieke skietwonde opgedoen het, is Woensdag, 16 Augustus oorlede.

Nienaber het verlede November op ‘n motorkaping in Kiewietstraat in Helikonpark gereageer. Toe hy die gewapende kapers wou konfronteer, is hy twee keer raakgeskiet. Hy was daarna van sy bors af verlam.

In gelukkiger dae. Nienaber en Delport. Foto: Ingestuur.

Die Herald het die afgelope Saterdag met sy lewensmaat van 17 jaar, Liza Delport, 34, oor sy dood gepraat. Hulle het twee kinders saam.

Sy het vertel hoe moeilik dit vir hulle as familie is om Marius se dood te verwerk, veral vir die oudste seun. Tydens die onderhoud was Delport braaf, maar haar trane het vlak gelê.

Related article: Security guard in critical condition

Die begrafnis is Dinsdag, 22 Augustus vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Merriespruit in die Vrystaat gehou, waar die gesin voorheen gebly het. Mapogo Sekuriteitsmaatskappy, wat Nienaber se werkgewer was toe hy op diens geskiet is, het vroeg dié Dinsdag as ‘n mooi gebaar in ‘n konvooi ter ere van Nienaber met hul voertuie gery.

Die konvooi van Mapogo Sekuriteit-voertuie ter ere van Marius Nienaber. Foto: Ingestuur.

Delport het vertel dat een koeël vir Nienaber in sy regterheup en die ander koeël sy nek getref het. Sy het verder gesê dat hy in Netcare Milpark Hospitaal opgeneem is, en later na Netcare se Rehabilitasiesentrum in Aucklandpark oorgeplaas is.

Also Read: Brave Nienaber dies

Die kateter wat Nienaber moes gebruik het egter septisemie veroorsaak. Hy het daarvan herstel, maar toe dit weer gebeur, is eers sy niere en toe die res van sy organe aangetas, wat sy dood veroorsaak het.

“Ek bedank graag die Mapogo Sekuriteit-personeel en my werkgewer, Hendrik van Wyk Vervoer, vir al die ondersteuning – finansieel en omdat hulle my bygestaan het.

Mapogo het meer as hul kant gebring,” het ‘n dankbare Delport gesê. Sy het bewoë vertel dat hulle darem tyd gehad het om van mekaar afskeid te neem, en oor alles gesels het.

William Brookes, wat Nienaber se toesighouer was, het vertel dat hy ‘n gawe, behulpsame mens was. As daar insidente was, was hy altyd eerste op die toneel. Sy werk was vir hom uiters belangrik, en hy was ‘n baie netjiese persoon. Brooks het gesê dat hy sy hoed afhaal vir Delport, aangesien sy van die begin af tot aan die einde aan Nienaber se sy was.

Brooks het ook sy dank uitgespreek teenoor EPR- en Boz-sekuriteit. Hul hulp en bystand na die skietvoorval was van onskatbare waarde.

Nienaber se kis. Foto: Ingestuur.

Wian van der Merwe, ook van Mapogo Sekuriteit, het die volgende oor Nienaber gesê, “Ons as kollegas wat saam met Marius gewerk het, gaan hom regtig mis.”

Hy het verder gesê dat Nienaber ‘n staatmaker was wat altyd op sy pos was en sy beste gegee het. Dié vriendelike man het geleef vir sy gesin waarop hy baie trots was. “Almal by Mapogo gaan hom rêrig mis. Ons sê dankie vir die spesiale tye wat ons saam kon beleef het en vir al die dinge wat ons by hom geleer het. Marius, jou gesin is in ons gebede.” Andries Potgieter het dit beaam.

Trane loop oor Liza Delport se wange oor haar geliefde Marius.

Michael, een van sy seuns het in die begrafnisbrief aan sy pa geskryf, “Ek is baie lief vir Pappie en ek hoop Pappie het nie meer pyn nie, ek weet Pappie is by die Hemel.”

In die brief wat Delport namens haarself, haar kinders, familie en vriende geskryf het, staan, “Jou plek is leeg, jou stem is stil. Ons glo dit was die Here se wil. Ons gaan jou baie mis, maar ons weet dat hierdie nie totsiens is nie, maar eerder tot ons mekaar weer eendag in die Hemel sien.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button