Local newsNewsUpdate

Baba se stryd teen virusinfeksies: Na 55 dae terug by die huis!

Agtmaande-oue baba Zihanco is weer terug by die huis in Greenhills nadat hy 55 dae lank in die hospitaal was weens virusinfeksies.

Mardene Posthumus, 27, ‘n enkelouer, is in die sewende hemel nadat haar agtmaande-oue babaseun weer terug by die huis is na 55 dae in die hospitaal.

Zihanco is op 9 Augustus uit die Netcare Garden City-hospitaal ontslaan. Vir Mardene en haar baie hegte familie was dit die dag waarna hulle baie lank uitgesien het. Die seuntjie vaar so goed dat hy net vitamiene moet gebruik om sy immuunstelsel op te bou. Hy gebruik ook soms ‘n nebuliseerder met kortisoon.

Kyk die glimlag! Zihanco en Mardene Posthumus.

“Hy eet baie goed en het darem gewig opgetel. Hy was verskriklik maer in die hospitaal. Jy kon sy beentjies sien uitsteek,” het Mardene gesê.

Die Herald het op 28 Julie berig oor Zihanco wat op die ouderdom van ses maande deur verskeie virusse aangeval is. Hy was eers in ‘n private hospitaal maar is later oorgeplaas na Netcare Garden City se intensiewesorg-eenheid waar hy Ekmo-lewensondersteuning (ekstrakorporeale membraanoksigenering) ontvang het. Die behandeling was vir Mardene en haar familie senutergend omdat dit bepaalde risiko’s inhou, en genadiglik het dit geslaag.

Lees oorspronklike artikel hier: Baba se stryd teen virusinfeksies

“Ek kon nie elke dag heen en weer ry nie, dus was ek 24 uur per dag by die hospitaal. Party aande het ek op die banke by Ontvangs geslaap. Die Here het my in dié tyd gedra,” het Mardene vertel. Sy het bygevoeg dat hul sterk geloof hul redding was.

Zihanco het selfs vir die Herald geglimlag.

Mardene sê baie dankie aan Think Cake en Myne Maaitjies Kleuterskool wat vir Zihanco fondse ingesamel het. “Baie dankie ook aan my familie en aan Zihanco se pa se familie vir al die ondersteuning en gebede,” het Mardene dankbaar gesê.

Sy het tans hope mediese rekeninge wat sy moet betaal aangesien die mediese fonds nie al die prosedures dek nie.

As daar iemand is wat Mardene met donasies of werk kan help, skakel haar asseblief by 076 044 7859.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button