Man met ‘n plan kry sy fiets

Mense het vir Gerhard skuiling, 'n karavaan, kos, 'n maandelikse bydrae, 'n splinternuwe fiets en ander items aangebied.

Gerhard Fourie, bekend as ‘n man met ‘n plan, is onlangs van sy enigste fiets en ander kosbare besittings beroof.

Die Herald het in Julie 2015 berig oor Gerhard wat sedert geboorte verstandelik gestrem is en wat gereeld op sy fiets met die waentjie wat hy sleep in Randgate gesien word. Hy het ‘n inkomste verdien deur herwinbare materiaal te versamel wat hy by ‘n herwinningsmaatskappy in Randfontein vir kontant geruil het. Dit is hoe hy liggaam en siel aan mekaar gehou het. Op Vrydag, 11 Augustus het Gerhard weer by die Herald se kantore opgedaag. Hy het verwaarloos voorgekom, was negatief, hartseer en het in pyn verkeer. Hy het vertel dat hy onlangs van sy enigste fiets en ander kosbare besittings beroof is.

Gerhard met sy nuwe fiets.

Nadat die Herald oor Gerhard berig het, het oproepe van die gemeenskap ingestroom om Gerhard op verskeie maniere te probeer help. Die Herald het toe weer met Gerhard gesels om meer inligting oor hom te bekom.

Gerhard het vertel dat hy 39 jaar oud is en dat hy gereeld epileptiese aanvalle kry. Hy het vertel dat hy voorheen vir ‘n maatskappy gewerk het wat yskaste herstel, en dat hy oor die algemeen baie daarvan hou om met sy hande te werk.

“Ek kan mikrogolwe, tuimeldroërs, wasmasjiene, yskaste en ander toestelle regmaak,” het Gerhard vertel.

Gerhard woon tans in die bos in ‘n hut wat hy self gemaak het. Hy pas ook sy ma op wat 64 jaar oud is. Hy het aan die Herald vertel dat hy nie ander familie het nie en dat hy verskeie kere by Sassa aansoek gedoen het vir staatspensioen.

“Hulle keur my keer op keer af,” het Gerhard vertel.

Op Donderdag 24 Augustus het ‘n plaaslike inwoner wat anoniem wil bly, ‘n fiets aan Gerhard geskenk. ‘n Ander inwoner wat ook anoniem wil bly het aan Gerhard ‘n bed, komberse en voedsel geskenk.

Gerhard met sy nuwe fiets.

Die persoon het aan die Herald vertel dat Gerhard se storie haar hart geraak het. Sy het onderneem dat sy en haar man na Gerhard sal omsien en hom in die toekoms sal help om sy herwinningsbesigheid suksesvol te bedryf.

Die Herald het die fiets aan Gerhard oorhandig en hy het dit met trane in sy oë ontvang.

“Dit maak my so gelukkig om te sien dat die gemeenskap omgee en hulle harte oopmaak,” het Gerhard gesê.

Mense het aan Gerhard skuiling, ‘n karavaan, kos, ‘n maandelikse bydrae, ‘n splinternuwe fiets en ander items aangebied.

Gerhad wil graag die gemeenskap bedank wat hom op ‘n daaglikse basis ondersteun. Hy is ook bereid om toestelle vir ekstra inkomste te herstel. Gerhard kan gekontak word by 079 736 6652.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za  (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites

Roodepoort Record

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Exit mobile version