Local newsNews

R20 000! Adverteerder woedend oor trokke sy bord beskadig

'n Besigheidseienaar moet R20 000 opdok om sy advertensiebord te herstel nadat trokke dit vir die soveelste keer raakry.

André Coetzee en sy vrou Corleen is briesend en raadop nadat hulle advertensiebord weer op Vrydag, 18 Augustus glo deur trokke beskadig is.

Die trokke staan oorkant ‘n bekende oliefabriek geparkeer, iets waaroor talle inwoners ongelukkig is. André het op Woensdag, 23 Augustus aan die Herald vertel dat dit die derde keer in een maand is dat hul besigheid se advertensiebord beskadig word.

Die advertensiebord van die Coetzees wat verlede Vrydagaand beskadig is.

“Dit is onkostes wat ons elke keer moet dra. Ek het kwotasies aangevra om die bord te herstel en te skuif. Die algemene prys was R20 000,” het André gesê. Hy het glo ‘n vorige keer R3 000 betaal om die bord te laat herstel.

“Ek het met die betrokke raadslede gepraat, en daar is genoem dat dié probleem by die Rand West City-munisipaliteit aangemeld is. Niemand het egter nog terugvoering daaroor gegee nie,” het André moedeloos gesê.

Die oliefabriek aanvaar glo nie aanspreeklikheid vir die skade nie. Die persoon in beheer van die trokke het glo gesê die kontrakteurs aan wie die trokke behoort, moet hom vir die skade vergoed.

“Dit is egter die oliefabriek wat nie parkeerplek op hul perseel vir die magdom vragmotors voorsien nie. Ons verstaan nie hoe die Verkeersdepartement niks aan die trokke doen wat so onwettig parkeer nie. Ons gaan nie weer die herstelkoste dra nie; ons soek nou antwoorde,” het die Coetzees gesê.

André Coetzee is raadop en omgekrap oor die advertensiebord wat deur die trokke beskadig word.

Die Herald het dié probleem aan Tshidiso Tlharipe, die woordvoerder van die Uitvoerende Burgermeester verduidelik. Hy het onderneem om ondersoek in te stel en by die betrokke persone en departemente navraag te doen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button