Veediefstalsindikaat in Waterpan?

Bekommerde inwoner en voorsitter van Waterpan-buurtwag het met die Herald gesels oor veediefstal in die area.

Veediefstal is besig om hand uit te ruk.

Dit is die algemene gevoel onder veeboere, veral in die Waterpan-gebied, nadat hulle ‘n paar keer onder veediewe deurgeloop het. Gebiede wat die meeste deur veediefstal geraak word is Waterpan, Carletonville, Fochville, Randfontein en Zuurbekom.

Gebiede wat die meeste deur veediefstal geraak word is Waterpan, Carletonville, Fochville, Randfontein en Zuurbekom. Leêrfoto.

Die Herald het Dinsdag, 22 Augustus met Johan van Wyk, voorsitter van Waterpan se buurtwag oor veediefstal gesels.

Van Wyk het genoem dat daar Donderdagaand 10 Augustus asook Vrydagoggend 11 Augustus ongeveer 21 beeste in die klein myndorpie Elandsrand gesteel is. Die eienaar van die beeste het dadelik ‘n saak by die polisie geopen.

“Dit was ongeveer 2vm toe die beeste in ons area te voet aangejaag is. Dit is ‘n goeie 50 tot 60 kilometer van Waterpan af,” het Van Wyk vertel.

Later die Vrydag is die beeste weer verskuif. Vyf is na bewering langs die pad afgelaai waar transaksies plaasgevind het. Die Saterdag is die beeste weer verskuif en op Sondag, 13 Augustus, is die Westonaria-polisie glo in kennis gestel van 16 gesteelde beeste op ‘n perseel. Daar het hulle ‘n verdagte ondervra maar het glo nie die persoon in hegtenis geneem nie.

Van Wyk en Jaco Taute, voorsitter van die Interprovinsiale Veediefstalvoorkomingsforum was saam met lede van die Veediefstaleenheid op die toneel.

Daar was ook verskeie ander voorvalle van veediefstal in die area, wat vir Van Wyk lyk asof ‘n groot sindikaat by die diefstal betrokke kan wees.

Lees ook: How to mark your cattle the right way 

Op 7 November 2016 is 17 beeste in Khutsong gesteel, waarvan slegs vyf teruggevind is. In ‘n ander insident is 49 gebrandmerkte beeste gesteel, maar net nege is teruggekry. Die persoon wat van betrokkenheid by die diefstal van die 21 beeste in Elandsrand verdink word, was glo in die besit van foto’s van elkeen van die 49 gebrandmerkte diere.

Nadat die polisie hom ondervra het, het die verdagte na bewering gevlug. Van Wyk se grootste vraag is hoekom die polisie nie die verdagte gearresteer het as hy die gesteelde beeste op sy perseel gehad het nie. Van Wyk en sy span het glo die verdagte telefonies aangesê om terug te keer Waterpan toe, maar hy het daarna glo net een keer op Van Wyk se oproepe gereageer.

Taute vra dat enigiemand met meer inligting of leidrade hom by 082 635 2424 sal skakel.

In ‘n artikel op die Herald se webblad in Augustus 2015 met opskrif Is veediefstal besig om hand uit te ruk in SA? was die antwoord wat lesers gegee het toe al ‘Ja’.

Johan van Wyk is bekommerd oor veediefstal in die area.

Daar is gesê, “Jaarliks word sowat R700 miljoen se vee in ons land gesteel. Van die sowat 60 000 beeste wat gesteel is, is net 40 persent teruggevind. Van die sowat 81 000 skape wat gesteel is, is net ‘n skrale 21 persent weer gevind. Veediefstal in sy geheel is moeilik om te bekamp en meer intensiewe maatrëels moet geïmplementeer word asook swaarder strawwe moet deur die howe opgelê word.”

“Veediefstal is van die moeilikste sake is om op te los. Weens die tekort aan opgeleide personeel en toerusting word die Veediefstaleenheid in die uitvoering van hulle pligte gekniehalter. Die probleem word vererger deur die feit dat veediefstal ‘n ‘besigheid’ geword het en daar aanduidings van sindikaatbedrywighede is.”

Daar is ook gesê, “Die nuwe vuurwapenwet maak dit moeilik vir die veeboer om sy grond en eiendom te beskerm omrede die klomp voorwaardes, dokumente en vuurwapenbevoegdheidsertifikaat wat bekom moet word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version