MunicipalNews

Pasop motoriste! Daar’s spoedhobbels in Fredalaan

Motoriste gewaarsku om versigtig in Fredalaan, Homelake te ry nadat drie spoedhobbels opgerig is.

Inwoners van Homelake was die afgelope tyd bekommerd omdat motoriste vinniger as 60km per uur in Fredalaan ry.

Omdat die straat daagliks deur voetgangers, onder andere skoolleerders gebruik word, was daar vrese dat iets ernstig kon gebeur. Inwoners is egter nou dankbaar dat daar iets omtrent die saak gedoen word.

Lees ook: Spoedhobbel maar geen waarskuwing

Op 11 Augustus het raadslid Ellik de Lange ‘n versoek aan Peter Mathebula, die bestuurder van die munisipaliteit se Infrastruktuurdepartement gerig om spoedhobbels in die straat op te rig. Op 22 Augustus is drie spoedhobbels in die straat gelê.

Die Herald het met inwoner Frik Gerber gesels en hy kon nie uitgepraat raak oor hoe dankbaar hy is nie.

“Die pad is baie gevaarlik want motoriste jaag vreeslik. Hulle het geen respek vir die 60km/h-spoedgrens nie,” het Frik gesê.

Ellik bedank die munisipaliteit vir hul vinnige optrede. Hy het aan die Herald genoem dat die spoedhobbels binnekort geverf gaan word en dat hy ‘n waarskuwing aan motoriste sal uitstuur om versigtig te ry en op die uitkyk vir die hobbels te wees.

Enkele ure nadat die spoedhobbels gegooi is, het ‘n vrou haar motor beskadig, ten spyte van verskeie waarskuwings wat op noodgroepe uitgestuur is.

“Die mense moet kyk waar hulle ry. Hulle jaag soos duiwels in die straat. Die gemeenskap versoek spoedhobbels en wanneer dit gelê word, kla hulle,” het Ellik gesê.

Ellik het weer eens ‘n waarskuwing aan motoriste gerig om versigtig te ry en op die uitkyk vir die hobbels te wees. Die nodige waarskuwingstekens sal binnekort daar aangebring word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button