NewsSchools

Wetenskaplikes by Ram gekweek

Van energie-opwekking, waterpompe tot mummifisering is ten toon gestel tydens Ram se Graad 7 NW-ekspo.

Graad 7-leerders van Laerskool Randfontein het onlangs hul kennis van wetenskap tydens ‘n Natuurwetenskappe-ekspo ten toon gestel.

Volgens die skool verwag die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente dat elke leerder van Graad 4 tot 12 minstens een volledige wetenskaplike ondersoek per jaar in Natuurwetenskappe doen. Ram se Natuurwetenskappe-personeel onder die leiding van Annie Nolan het toe besluit om hul eie ekspo aan te bied.

Quinten Havenga, Damion Bezuidenhout en Gert-Louw Basch by hul taak oor isolasie in laekoste- behuising.

Graad 7-leerders kon elkeen hul eie onderwerp om uit een van 15 kategorieë kies. Hulle kon ook kies of hulle in groepe van tot vier leerders of individueel wou werk. Daarna het hulle die gekose onderwerp of probleemstelling deeglik nagevors deur die wetenskaplike metode te volg.

“Elke groep het ‘n plakkaat saamgestel wat die probleemstelling, hipotese, metode van dataversameling, data-analise en gevolgtrekking bevat het.

Hulle moes ook ‘n uitbeelding of eksperiment van die projek gee. Leerders het hulle uiters goed van hul taak gekwyt en besonderse projekte aangebied,” het Annie gesê.

Die top projekte het gehandel oor energie-opwekking, waterpompe, mummifisering, magnete en suiwering van seewater. Die beste taak het aan Marcus van Staden en Reinhardt Breedt behoort. Hulle het ‘n waterpomp ontwerp wat met gravitasiekrag werk.

Reinhardt Breedt en Marcus van Staden met hul gravitasiewaterpomp.

Volgens Annie was dit ‘n oulike manier om water te voorsien aan huise wat nie toegang tot elektrisiteit het nie. Die Graad 7- asook Natuurwetenskappe-personeel het die leerders geassesseer as deel van die vierde kwartaal se formele assessering. Nadat die assessering gedoen is, kon die Graad 1- tot 6-leerders die ekspo besoek waar hulle lekker met die Graad 7’s gesels het.

Volgens Annie was die dag ‘n reuse sukses.

“Dis ongelooflik om te sien wat die leerders in ‘n jaar geleer het; hoe uitgehonger hulle was om te eksperimenteer met wetenskap en hoe leergierig hulle is. Dit gee my hoop vir die toekoms want ek weet jong wetenskaplikes word van kleins af gekweek,” het Annie gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button