Diere eienaars se vermiste diere in strikke gekry

Jy dink dalk jou dier is weg of loop rond, maar intussen hang hy aan 'n strik.

Op Saterdag 5 Augustus het ‘n inwoner sy kat in ‘n veld in Greenhills gevind waar dit in ‘n strik gevang is.

Nadat die kat meer as ‘n week lank weg was, het hy in die veld daarna gaan soek. Die geskokte eienaar het sy kat dood in die strik gekry.

Louisa Rossouw, wat langs die veld woon, se seuns het gaan ondersoek instel en meer as 15 strikke op verskillende plekke in die veld gekry.

“Daar was katte, hase en voëls in die strikke. Dit was iets afskuwelik,” het Louisa gesê.

Louisa se seuns het die strikke verwyder, maar die volgende dag was daar klaar weer nuwes. Die seuns het al die diere uit die strikke gehaal en begrawe. Louisa het ontsteld aan die Herald vertel dat sy ‘n diereliefhebber is en dat dit haar hart breek.

“Eienaars dink hul diere is weg of loop rond, dan is hulle eintlik dood in ‘n strik. Hoe kry jy ooit gemoedsrus as jy nie weet waar jou diere is nie? Jy dink dalk jou dier het per ongeluk uit jou werf gekom of loop net rond, maar intussen hang hy aan ‘n strik,” het Louisa gesê.

Louisa Rossouw hou ‘n stuk draad vas wat in een van die strikke gebruik is.

Sy het vertel dat hulle tevore karkasse in die veld gekry het, wat aandui dat die strikke al vir ‘n geruime tyd gestel word.

Die Herald het die plaaslike DBV genader om hulle kommentaar oor die situasie te kry. Die voorsitter van dié DBV-tak, Lucy Phillips, het aan die Herald vertel dat Louisa hulle besoek het en dat die DBV nie iets aan die saak kan doen nie.

“Mense moet hul diere in hul erwe hou. As jy jou dier binnehou, sal die dier nie in ‘n strik beland nie. Diere-eienaars moet ook hul diere van jongs af leer om nie uit die erf te gaan nie,” het Lucy gesê.

Lucy het verder vertel dat dit baie harde werk is om ‘n dier aan te hou en met baie verantwoordelikhede gepaard gaan. Sy waarsku egter oortreders dat hulle vervolg kan word.

In Julie is ‘n kat wat in ‘n strik gekry is, na ‘n plaaslike veearts toe geneem. Die dier kon gered word, maar sy een been moes geamputeer word.

Wie die strikke stel bly ‘n groot raaisel, maar Louisa is vasberade om die kwaaddoeners te vang. Sy het besluit om kameras op te stel wat op die veld sal uitkyk om sodoende te verhoed dat meer strikke gestel word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version