Local newsNews

Man draai by die dood om na hy aan burger smul

Jong man hou op asemhaal en verloor 'n paar keer sy bewussyn na hy aan burger smul. Apteek en sy verpleegsusters kom tot sy redding.

“My seun het by die dood omgedraai en as dit nie vir die verpleegsusters by die apteek was nie, het ek vandag my seun begrawe.”

So het Debbie Knickelbein Roux, ma van Cristopher Blignaut, 24, gesê. Sy glo die verpleegsusters van die Randgate Apteek het haar seun se lewe gered toe hy skielik opgehou asemhaal het nadat hy ‘n burger geëet het.

Die voorval was Maandag, 24 Julie.

Christopher het verduidelik, “Ek het heerlik aan ‘n burger gesmul toe ek skielik begin sleg voel. My keel het toegetrek en ek het inderhaas na ‘n plaaslike kliniek toe gery. Daar is vir my gesê om in die ry te gaan sit, maar ek het besef dat as ek nie dadelik behandeling kry nie, ek gaan sterf. Ek is toe apteek toe waar die twee verpleegsusters my dadelik gehelp het.”

Die personeel het Christopher se ma onmiddellik laat weet en aan haar verduidelik dat Christopher se organe binne 20 minute kan staak. Die susters het alles in hul vermoë gedoen om hom aan die lewe te hou terwyl hulle vir die Netcare 911-paramedici gewag het.

“Christopher het ‘n buitengewone allergiese reaksie gehad wat uiters gevaarlik was,” het verpleegsuster Rianie Grové aan die Herald verduidelik.

Volgens die ander suster, Babalwa Rltsepo het Christopher verskeie kere ophou asemhaal en ook ‘n paar keer sy bewussyn verloor.

“Ons het net aangehou om hom aan die lewe te hou,” het Babalwa gesê.

Christoper is na die Leratong-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Debbie het vir die Herald van die apteek se uitstekende diens vertel. “Wat my diep geraak het, is dat een van die personeellede my gekontak het tydens die voorval en aangebied het om my te kom haal en na my seun toe te neem,” het Debbie vertel.

Die apteekpersoneel het haar boonop die volgende dag geskakel om te vra hoe dit met haar seun gaan.

“My seun het by die dood omgedraai en as dit nie vir die susters by die apteek was nie, het ek vandag my seun begrawe,” het Debbie gesê.

Debbie en haar gesin het nagenoeg 18 maande gelede na Randfontein verhuis en sy kon nie uitgepraat raak oor die goeie diens en vriendelikheid wat hulle al van die inwoners ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button