Rommel neem oor in R’fontein!

Middelvlei-inwoner sê dit voel of hy in 'n varkhok bly weens al die rommel wat by sy besigheid en huis gestrooi word.

Vir 15 jaar lank sukkel Wiekus de Beer met die probleem van rommel voor sy huis en besigheid. Volgens hom is dit nou besig om hand uit te ruk.

Wiekus besit ‘n kleuterskool en die rommel wat vreemde mense op die perseel strooi, hou ‘n gesondheidsgevaar in. Daar word onder andere huishoudelike produkte, bottels, plastiek en ander onooglike items daar gestort.

“Ons het al ‘n hoop dooie hoenders en dooie honde tussen die rommel gekry wat ons moes skoonmaak,” het Wiekus gesê.

Hy het ook vertel dat dit hom vies maak om elke dag ander se rommel in sy erf te moet optel en te gaan weggooi.

Vir Wiekus voel dit of hy in ‘n varkhok bly, maar hy is bekommerd oor sy diere en die kinders wat daagliks op die perseel is. Skoolkinders moet ook hul pad deur die rommel vind.

Lees ook: Sies! Wat’s dai reuk?

Wat hom ook ontstel is dat sy grond besoedel word deur goed soos plastiek. Hy het vertel dat hy gereeld glasbottels uitgrawe wat donkiejare oud is.

Die rommel is meestal huishoudelik goedere.

“Dit voel vir my of Middelvlei en Kocksoord ‘n asgat is,” het Wiekus gesê.

Hy weet nie wie die skuldiges is nie omdat die afval óf baie vroeg soggens óf baie laat saans daar afgelaai word. Hy het vertel dat die hoewebewoners nie munisipale dienste ontvang nie en dus self daarvoor verantwoordelik is.

“Dit help nie jy maak jou plek skoon en kom maak myne vuil nie. Ek betaal ‘n private maatskappy om my rommel weg te ry, maar nou moet ek betaal om ander se rommel te verwyder,” het Wiekus gesê.

Hy hou manalleen sy erf skoon en verg harde werk, het hy vertel.

Dit breek egter Wiekus se hart om te sien dat die dorp se standaarde daal. Hy het vertel dat hy verstaan dat almal nie altyd die regte geriewe het om van hul vullis ontslae te raak nie, maar dat dit nie regverdig is dat hy daarvoor verantwoordelik gemaak word nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version