Aureus-besighede vies vir munisipaliteit oor infrastruktuur

Besighede in Aureus meen byna 400 mense kan hul werk verloor indien die munisipaliteit nie dringend ingryp en aan die infrastruktuur aandag gee nie.

In Dodgestraat in Aureus is daar verskeie besighede wat hul eienaars se brood en botter is. Weens die swak of totale gebrek aan dienslewering deur die plaaslike munisipaliteit sal almal dalk binnekort hul deure moet sluit.

Besigheidseienaars in die straat het die Herald genader omdat hulle voel dat geen dienste waarvoor hulle betaal, gelewer word nie.

“Ons het basies geen infrastruktuur hier nie,” het Julius Burger, ‘n besigheidseienaar gesê.

Vir die afgelope twee jaar vul besigheideienaars die gate in Dodgestraat met klippe en stene omdat die pad doodeenvoudig nie reggemaak word nie. Ondanks menige oproepe na die munisipaliteit en ‘n besoek aan die burgemeester word versoeke om die pad oor te doen volgens hulle van die hand gewys.

Rikus Hearn.

Die eienaars het vertel dat hul sypaadjies verwoes word – en dit hulle geld uit die sak jaag om dit te herstel – omdat die pad nie rybaar is nie en klante nie hulle motors op die pad wil beskadig nie.

“Klante se bande word gereeld deur die pad beskadig,” het Rikus Hearn, ‘n ander besigheidseienaar gesê.

Lees meer hier: Roads in Aureus to be fixed

Nog ‘n probleem is suur wat ander besighede in die pad laat afstroom. Volgens talle eienaars moes hulle al klante se motors skoonmaak wat deur die suur moes ry.

‘n Ander probleem is misdaad omdat daar geen beligting in die straat nie. Julius het vertel dat daar ook geen dreinering is nie en dat hulle die reënseisoen vrees. Die area kry ook nie die vullisverwyderingdienste waarvoor hulle elke maand opdok nie.

Volgens Gordon Chopman het sy besigheid Duitse beleggers wat hul belegging wil onttrek as gevolg van die gebrek aan infrastruktuur.

As daardie beleggers onttrek, gaan meer as 400 mense hul werk verloor,” het hy gesê.

Die besigheidseienaars het al baie geld spandeer om die pad reg te maak, slote te grawe en vele meer, hoewel dit die munisipaliteit se plig is om die pad in stand te hou.

“Waarom betaal ons ons belasting en tariewe as ons geen dienste ontvang nie? Die industriële gebied is die hart van die dorp, waarom kan daar nie aan ons aandag gegee word nie?” het Julius gevra.

Die Herald het raadslid Eddie Krog genader. Hy het gesê, “Ek sal die probleme dadelik aan die betrokke partye rapporteer en ook in kontak kom met die besigheidseienaars sodat hulle probleme en klagtes by die volgende vergadering ingedien kan word.”

Volgens Eddie is die straat ook nie deel van die huidige Geïntegreerde Ontwikkelingsplan nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version