Beatrix Hooman, ‘n plaaslike skrywer het twee gedigte geskryf vir die vrou wat onlangs haarself aan die brand gesteek het. Die tragiese voorval het Maandag, 10 Julie ten aanskoue van lede van die publiek in Randgate plaasgevind. Die vrou sterk tans in die hospitaal aan.
Beatrix het twee gedigte geskryf – die eerste oor die voorval en die pyn wat mens ervaar, en die tweede oor haar vordering op die pad na herstel in die hospitaal.
Volgens Beatrix is daar baie seer in die lewe en daarom het sy besluit om ‘n gedig spesifiek vir Susan te skryf en dalk ander ook daardeur inspireer.
“Die hele land is aan die gons oor selfmoordneigings en ek wil graag ander se oë oopmaak en hulle verseker dat daar wel hoop is,” het Beatrix gesê.
Gedig 1:
Selfbrand!
Skielik staan sy daar
in die straat het ek haar gewaar
uit haar sak ruk sy vinnig die vloeistof oop
oor lyf en kop gegooi, asof sy haarself herdoop
druppend met lawe benat
hare, gesig, klere tot op die pad
sonder huiwering, vinnig en angstig
met eie hand ‘n vuur gestig
o Heer ‘n vlamme-bos ontspring
vuur uit ‘n mens verwring
sy steier, sy val in hel
wat het satan haar vertel
verbygangers hardloop bevaard nader, in die vlamme-mis
probeer dié vuurmens blus
baadjies word vinnig afgeruk
almal wil help, terwyl skok aan harte ruk
hoe seer is ons wêreld Heer
wie kan al die pyne keer
my gebedswoorde is vir haar
as ek na die angswekkendste beelde staar
wat laat ‘n mens so van stryk
om na so ‘n gruweldaad te wyk
wees genadig
bring berading
laat U liefde haar omvou
want net aan U, kan ons waarlik vashou
‘n Paar dae na Suid-Afrika begin gons het oor die voorval het Beatrix verneem dat Van Rooyen aansterk en het sy besluit om ‘n ander gedig te skryf wat ander ook kan aanraak.
Gedig 2:
Wintersdae
Liewe Heer,
party van ons se harte is seer
gee krag;
vir dié wat wil gaan lê, wees asseblief sag
genesing;
vir die wat siek is, en roep na behandeling
vrede;
vir hul wat rusteloos is, soms sonder rede
hulp;
vir die wat sukkel, met arms om hul geskulp
moed;
vir die wat bang is, met storms wat om hul woed
insig;
vir dié wat soekend is, bring vir hul U Lig
en Here,
‘n drukkie vir ons almal asseblief
want ons is vir U lief!
‘n ietsie vir elkeen;
want net op U kan ons steun
veral drukkies-gebede
dit bring V R E D E
‘n stywe omgee-drukkie van Jesus
om ons elke dag te kus
want U LIEFDE is oneindig meer
om ons te inspireer
laat ons geseënd wees
sodat ander, Jesusliefde in ons harte sal lees
mag ons skyn vandag
met dié warmte van ons lag
‘n sonskynstraaltjie bring
en ons lied op koue wintersdae, ander sal omkring!
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!