MunicipalNews

Spookhuisraaisel in Homelake

Ongeveer twee jaar gelede is 'n man in sy huis vermoor. 'n Paar dae na sy afsterwe het sy vrou glo spoorloos verdwyn en 'n praghuis agtergelaat.

Godfreystraat 1 was twee jaar gelede die plek waar ‘n gelukkige gesin van drie met hul hond gewoon het.

In Augustus 2015 is die gesin aangeval en Marius Smit is in sy huis vermoor. ‘n Paar dae na sy afsterwe het sy vrou (wie se naam aan die Herald onbekend is) glo spoorloos verdwyn. Die praghuis staan nou leeg.

Enkele maande na die tragedie het vreemde persone dié huis begin gebruik as skuiling en die enorme huis raak nou vir die bure ‘n probleem.

Dit is vir Frik Gerber ondraaglik om langs die huis te woon.

Frik Gerber, wat in die huis langsaan woon, het vertel dat die huis die afgelope twee maande gestroop is, dat dwelmhandel daar plaasvind en dat vreemde mense snags daar skuil. Frik het ontsteld vertel van die prostitute, onwettige immigrante en dwelmhandelaars wat hulle reg langs sy woning tuisgemaak het en dat dit vir hom en sy gesin steurend en ondraaglik is.

“Die eienaars was altyd vriendelik en pynlik netjies. Die gras was groen en ‘n kind het gereeld op die gras gespeel,” het Frik vertel.

Die Herald het die huis besoek en gesien dat dit tevore mooi binne was. Daar was voorheen mooi teëls en houtkaste, en die mure was geverf. Frik het beduie waar elke vertrek was.

“Alles is gesteel – die houtkaste, laaie, drade, pype en toilette. Alles wat kan los kom is gesteel,” het Frik ontsteld vertel. Hy het gesê hy is bereid om die plek in stand te hou tot die eienaar opgespoor kan word. Hy het glo gehoor dat Marius se vrou Kaap toe verhuis het en weer getroud is.

Dit is vir Frik Gerber ondraaglik om langs die huis te woon.

Die Herald het DA-raadslid, Ellik de Lange genader vir kommentaar.

“Ons is op soek na Marius Smit se vrou of ‘n familielid wat vir ons meer inligting oor die huis kan gee. Ek het drie telefoonnommers van die familie, maar nie een van die nommers werk nie. Die huis het tot ongeveer drie maande gelede ‘n water- en elektrisiteitsrekening gekry,” het Ellik gesê.

Enige iemand wat meer inligting oor die huis of familielede kan verskaf, kan Ellik kontak by 083 379 3559.

Mense begin nou wonder of Randfontein besig is om ‘n spookdorp te word met al die huise wat so leegstaan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button