#MunisipaalMaandag – Riooldrama by twee huise in Homelake

Raadslid: Inwoners betaal hulle belasting en tariewe en dan ontvang hulle geen diens nie.

Riool begin al hoe meer gereeld sy lelike kop in inwoners se erwe uitsteek.

In hierdie week se #MunisipaalMaandag het die Herald twee inwoners in Homelake besoek, waar riool deur hul erwe vloei.

Lees ook: Riool net waar jy kyk by Homelake-huis

Op Maandag, 10 Julie het die Herald berig dat ‘n inwoner van Helikonpark meer as drie dae gesukkel het om diens van die munisipaliteit te kry. Dié inwoner het riool in haar agterplaas en oprit gehad. Dit het later in haar wasbak, stort en toilet begin opstoot.

Op Vrydag, 14 Julie, het nog ‘n ontstelde inwoner van Homelake die Herald genader oor ‘n rioolprobleem in sy erf. Sy buurvrou het ook dieselfde probleem. DieHerald het Eddie Krog, DA-raadslid genader om ondersoek in te stel.

‘n Mens kan nie so lewe nie. Ek het dieselfde reuk en smaak in my mond vir die afgelope drie dae. Ons ontvang net geen diens van die munsipaliteit nie, net beloftes dat hulle sal opdaag, maar hulle daag ook nooit op nie,” het Susan Kgori gesê.

Die Herald het Eddie Krog, DA-raadslid genader om ondersoek in te stel.

Susan en haar buurman, Lukas Janse van Vuuren, het drie dae gesukkel om die probleem uit te klaar, maar het geen diens ontvang nie. Lukas het aan die Heraldvertel dat hy vir 17 uur ‘n dag op suurstof moet wees, maar die rioolprobleem maak dit onmoontlik. Susan is asmaties en die riool vererger haar toestand.

Met Eddie se aankoms het hy sy onsteltenis dat inwoners só moet lewe laat blyk.

Inwoners betaal hulle belasting en tariewe en dan ontvang hulle geen diens nie. Dis belaglik,” het Eddie gesê.

Na verskeie oproepe het Eddie die munisipaliteit sover gekry om verlede Vrydagaand twee van die erwe skoon te maak. ‘n Ander erf is die volgende oggend behandel.

Eddie het aan die Herald vertel dat dit sy hart breek om te sien hoe mense in sulke omstandighede moet lewe. Hy het ook vertel dat hy baie dankbaar is vir die hulp wat opgedaag het, maar terselfdertyd is hy teleurgesteld dat ‘n raadslid ingeroep moet word voordat die probleem opgelos kan word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version