MunicipalNews

#MunisipaalMaandag – “Riool in my agterplaas, oprit en binnekort dalk in my huis”

Vir die afgelope ses jaar gebeur dit minstens een of twee maal per maand.

Meer as ses jaar lank sukkel ‘n plaaslike inwoner met riool wat deur haar hele erf vloei.

Die riool vloei in Lizel Smit se tuin, in haar oprit en het ook onlangs in haar stort en toilette begin opstoot.

Sy het onlangs genoeg gehad en die Herald genader. “Vir die afgelope ses jaar gebeur dit minstens een of twee maal per maand,” het Lizel gesê.

Die riool loop vanuit Lizel se oprit in die straat af.

Volgens Lizel gee die munisipaliteit elke keer dieselfde rede vir die probleem – in die straat agter haar huis is daar bome waarvan die wortels die stelsel blokkeer.

Op 5 Julie is Lizel se erf weer deur riool oorstroom.

“Ek het die munisipaliteit gekontak en hulle het eers ongeveer drie dae later gereageer om die riool op te ruim,” het sy gesê.

Die Smit-gesin se lewe is omver gegooi. Hulle kan nie hul stort gebruik nie en die stank bly in hul huis hang. Volgens Lizel doen niemand moeite om ‘n permanente oplossing vir die probleem te kry nie.

Die Herald het DA-raadslid Craig Harrison genader om sy kant van die saak te hoor.

“Ek het die probleem verskeie kere by die bestuurder van Rand West City aangemeld. Hy het vertel dat die munisipale werkers staak,” het Craig gesê.

Craig het aan die Herald vertel dat hy Lizel se frustrasies verstaan omdat gemeenskapslede hul munisipale rekeninge betaal en dan geen diens daarvoor kry nie.

Ongeveer 4.30nm op Vrydag (7Julie) het die werkers van die munisipaliteit die blokkasie verwyder. Lizel was baie dankbaar dat die probleem opgelos is, maar twyfel of dit permanent is.

“Dit is nie vir my regverdig om elke maand my munisipale rekeninge te betaal en geen diens in ruil daarvoor te kry nie,” het Lizel gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button