CrimeNews

Drankwinkel in Greenhills geteiken: Skote klap

Skote klap na drankwinkelinbraak in Greenhills vanoggend.

Vanoggend (Maandag, 10 Julie) om 3.25vm, is daar op een van EPR se reaksie-offisiere geskiet nadat hy op ‘n alarmsein vanaf ‘n besigheidsperseel in Greenhills gereageer het.

“Met EPR se aankoms op die perseel het reaksie-offisier Werner Bothma onmiddellik opgemerk dat ‘n venster in die gebou gebreek is,” het Johan Krogh, algemene bestuurder van EPR Sekuriteit gesê.

Hy het verder vertel dat Bothma vier verdagtes opgemerk het wat uit die perseel gehardloop het en in onderskeidelik ‘n silwer en ‘n rooi voertuig gespring en weggejaag het.

Bothma het hulle agternagesit en op die tweerigtingradio om bystand gevra. Op die hoek van Conventweg en Palmlaan het die verdagtes vanuit hul voertuig op Bothma begin vuur, en twee rondtes het die EPR-voertuig getref.

Een rondte het die linkeragterdeur getref. Foto ingestuur.

Die een rondte het die linkeragterdeur getref terwyl ‘n tweede rondte deur die voorruit is. Die tweerigtingradio se handstuk is getref en Bothma se wysvinger, wat op die handstuk was, is skrams gewond.

Lees ook: Sekuriteitsbestuurder en familie geteiken

Die verdagtes het daarin geslaag om te vlug. Bothma is terug na die toneel van die inbraak en die Randfontein-polisie is ontbied om die aangeleentheid verder te ondersoek.

Bothma is na Lenmed Hospitaal geneem waar die geringe skade aan sy wysvinger behandel is.

“Ons is dankbaar dat Bothma so lig daarvan afgekom het, aangesien die rondte deur die voorruit noodlottig kon gewees het.”

Die tweerigtingradio se handstuk wat deur die koeël getref is. Foto ingestuur.

Die Herald was op die toneel en het met die eienaar van die perseel gepraat. Die eienaar het gesê die waarde van die goedere wat gesteel is, is nog nie bepaal nie, maar dat dit waarskynlik hoog sal wees.

“Dit is weereens ‘n bewys van die uiters gevaarlike werk wat ons manne 24 uur per dag, elke dag verrig!” het Krogh gesê.

Die Herald wag op kommentaar van die Randfontein-polisie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button