Tannie Lizzie vier haar 101e verjaarsdag!

Lizzie se geloof is baie sterk en sy glo dat dit die sleutel tot so 'n hoë ouderdom is.

Die alombekende en alombeminde inwoner van Randpoort Renaissance, tannie Lizzie le Roux, het haar 101e verjaarsdag op 3 Julie saam met vriende en familie gevier. Sy is tans die oudste inwoner in die oord en ook die oudste lidmaat van haar kerk.

Lizzie is baie geliefd in die gemeenskap. Almal by die oord beskou haar as die oord se moeder.

Sy is in 1916 op ‘n plaas in Elandsfontein gebore en was een van 10 kinders. Lizzie en haar man Andries – wat op 83-jarige ouderdom op 16 Junie 1997 gesterf het – is op 7 Maart 1939 getroud en het vyf kinders, waarvan een oorlede is. Sy het laggend vertel dat sy nie eers die name van haar klein- en agterkleinkinders kan opnoem nie aangesien sy altesaam 48 nasate het.

Lees ook: Tannie Lizzie is 1 200 maande jonk

Lizzie was vroeër eers ‘n huisvrou, toe ‘n kleremaakster en later het sy na mense omgesien wat hulp nodig gehad het.

“Die Here het my deur al die jare deur droogtes tot in goeie tye gedra,” het Lizzie gesê.

Lizzie se geloof is baie sterk en sy glo dat dit die sleutel tot so ‘n hoë ouderdom is. Haar gesondheid is steeds baie goed, ten spyte daarvan dat sy probleme met haar gehoor en sig het. ‘n Interessante feit oor Lizzie is dat sy elke oggend en aand haar oefeninge doen, wat haar aktief hou.

Inwoners in die oord het aan die Herald vertel dat Lizzie altyd ‘n voorbeeld is vir ander en dat sy net die beste vir ander wil hê.

“My grootste wens is dat elkeen wat hulle geloof verloor het weer sal begin glo,” het Lizzie gesê.

Lizzie het ook vertel dat sy ander wil aanmoedig om lief te wees vir mekaar, om te gee en om elke dag te glimlag.

Die Herald wens tannie Lizzie geluk met die besonderse mylpaal.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version