OPVOLG: Lyk in Randgate geïdentifiseer

Gemeenskap treur oor Apie se dood.

Die lyk van die man wat op 19 Junie in Randgate gevind is, is dié van Willem Johan Theron (Apie) van Zyl, 45.

Lees oorspronklike artikel hier: Lyk in Randgate gevind

Op dié spesifieke dag het die Herald berig dat die lyk net na 7vm tussen Tops Liquor en die casino in die area gevind is, en dat die oorledene volgens omstanders haweloos was en altyd in die omgewing geslaap het.

Die Herald het intussen die persoon die naaste aan hom opgespoor, wat die oorledene as Apie geïdentifiseer het. Fritz Zaayman, 38, het vir Apie sewe jaar lank geken. Apie het in ‘n stadium vir Fritz en ook in ‘n slaghuis in Randgate gewerk.

“Ek het hom onder my vlerk geneem,” het ‘n hartseer Fritz vertel. Hy was die eerste persoon wat geskakel is nadat Apie se lyk gevind is. Die dag toe Fritz met die Herald gesels het, het hy pas vir Apie uitgeken.

Fritz Zaayman, die persoon naaste aan Apie.

“Volgens die kring-TV-rekord het Apie net gaan sit en toe inmekaargesak,” het hy gesê. Fritz het verduidelik dat sy vrou na die toneel is nadat hy oor Apie se dood ingelig is. Toe sy daar kom, het die ambulanspersoneel hom reeds dood verklaar.

Volgens Fritz is daar ‘n vermoede dat hy aan ‘n hartaanval beswyk het, maar dit is nog nie bevestig nie. Hy het vertel dat hy dikwels vir Apie oor sy familie uitgevra het, maar dat Apie bloot gesê het dat hy in ‘n weeshuis grootgeword het en dat hy ‘n vervreemde broer in Mosambiek het.

Apie het bitter swaar gekry, maar hy was ‘n goeie mens. Hy het voor sy dood hier en daar los werkies. Fritz het verder vertel dat hy soms op ‘n Sondag vir Apie genooi het om by hulle aan huis te gaan eet. Apie was so dankbaar dat hy selfs hul karre wou was, net om dankie te sê.

Lees ook: Decomposed body found near school

Fritz het Apie op die Saterdag, twee dae voor sy dood, die laaste keer gesien. “Apie het altyd gesê hy is my weeskind,” het Fritz gesê.

Wynand Kaltwasser, wat Apie ook geken het, het op Facebook geskryf: “Ou Apie was ‘n baie goeie mens.. Toe ek by Randgate Spar gewerk het, het Apie by die slagtersgedeelte gewerk. As hy verby my geloop het, het hy altyd ‘n grappie of twee vertel. Aan die einde van sy skof het hy my geroep voor hy by die deur uitgaan om hom met my hande drukkies te gee. Dis search in sekuriteitswerk waarna hy verwys het. Hy het altyd gesê hy vat die lewe aan soos dit na sy kant toe kom. Rus in vrede, Apie! Jy was ‘n voorbeeld vir ons almal, jy sal baie gemis word.”

Jan du Randt van Maxi het geskryf: “Apie was ‘n goeie mens en altyd vriendelik. Hy het uit sy pad gegaan om almal te help en het nooit gekla nie. Hy was homself. Sal hom baie mis.”

Lees ook: Second body found at dumping site

Elsa van As het geskryf: “Apie was werklik ‘n baie goeie mens en het ons gehelp waar hy kon. Hy het vir ses jaar lank by ons gebly en ek sal altyd die goeie van hom onthou. Mis jou baie, Apie.”

Andrew Hinrichsen het geskryf: “Altyd ‘n goeie mens gewees, het vir 10 jaar lank saam met hom by Chamdor-slagpale gewerk. Altyd ‘n bakleiery vermy. Almal het van hom gehou.”

Michelle van House of Pizza het geskryf: “Apie was ‘n vriendelike mens, altyd gewillig om te help met enige iets wat gevra is. Hy was altyd oplettend vir mense se gevoelens en kon altyd ‘n glimlag op jou gesig sit. Almal hier by Hop gaan hom mis. Rest in peace Apie; gone but not forgotten.

Kaptein Appel Ernst, Randfontein Polisie-woordvoerder, het gesê dat geen misdaad vermoed word nie, en dat ‘n geregtelike doodsondersoek gedoen sal word om die oorsaak van sy afsterwe te bepaal.

Lees ook: Body found in veld in Aureus

“Hy het geen sigbare wonde of beserings gehad nie,” het Ernst gesê.

Fritz is nou besig om fondse vir Apie se begrafnis te probeer insamel. “Hy verdien ‘n ordentlike begrafnis,” het hy gesê.

Enige persoon of besigheid wat kan help om Apie se begrafnis eervol te maak, word gevra om asseblief vir Fritz by 072 032 3700 of Maritza by die Randfontein Herald by 011 693 3671 te skakel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version